Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 17:9-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. En Ek het ’n permanente blyplek vir my volk Israel gegee en hulle daar gevestig, ’n veilige plek waar hulle nie langer gepla sal word nie. Dit sal hulle eie land wees waar bose nasies hulle nie soos in die verlede kan verdruk nie,

10. selfs toe Ek rigters aangestel het om oor my volk te regeer. Ek sal al jou vyande onderwerp. “Ek verklaar nou vir jou dat Ek, die Here, vir jou ’n huis sal bou, ’n koningshuis.

11. Wanneer jy oud geword het en sterf, sal Ek een van jou seuns aanstel, en Ek sal sy koninkryk sterk maak.

12. Hy is die een wat ’n huis, ’n tempel vir My sal bou. En Ek sal sy troon vir baie lank bevestig.

13. Ek sal vir hom soos ’n pa wees, en hy sal vir My soos ’n seun wees. Ek sal nie my troue liefde van hom wegvat soos Ek dit van Saul wat voor jou regeer het, weggevat het nie.

14. Ek sal hom vir baie lank oor my koningshuis en koninkryk aanstel, en sy troon sal vasstaan vir baie lank.”

15. Natan het teruggegaan na Dawid toe en hom alles vertel wat die Here gesê het.

16. Koning Dawid het toe ingegaan en voor die Here gaan sit en gebid: “Wie is ek, Here God, en wat is my familie dat U my tot sover gebring het?

17. En dit was maar nog net iets kleins vir U, o God. Daarom het U ook gepraat van my koningshuis wat lank ná my sal bestaan! U praat asof ek iemand groots is, Here God!

18. Wat meer kan ek sê van die manier waarop U my geëer het? U weet hoe ek eintlik is!

19. Ter wille van my, o Here, en volgens u wil het U al hierdie groot dinge gedoen en dit ook bekendgemaak.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 17