Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 15:9-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Asa het in die twintigste regeringsjaar van Jerobeam van Israel koning van Juda geword.

10. Hy het 41 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Maäka, dogter van Abisalom.

11. Asa het gedoen wat die Here se goedkeuring geniet het net soos sy voorvader Dawid.

12. Hy het die tempelprostitute uit die land verban en al die afgode wat sy voorgangers gemaak het, weggeneem.

13. Hy het selfs sy ma Maäka onthef van haar posisie as koninginmoeder omdat sy ’n afskuwelike beeld ter ere van Asjera laat maak het. Hy het dit stukkend gekap en in die Kidrondal verbrand.

14. Hoewel die hoogtes nie verwyder is nie, het Asa nogtans gedurende sy hele lewe aan die Here getrou gebly.

15. Hy het ook die silwer en goue offergereedskap wat hy en sy pa aan God gewy het, na die tempel toe gebring.

16. Daar was voortdurend oorlog tussen Asa en koning Baesa van Israel.

17. Koning Baesa van Israel het Juda binnegeval en Rama versterk om sodoende te verhoed dat enigiemand koning Asa van Juda se gebied kon binnekom of verlaat.

18. Asa het toe die silwer en goud wat nog in die skatkamers van die Here se tempel en die koninklike paleis was, geneem. Hy het amptenare gestuur om dit na Ben-Hadad seun van Tabrimmon en kleinseun van Gesjon, die koning van Aram in Damaskus, weg te vat. Hy het hom laat weet:

19. “Laat ons ’n ooreenkoms sluit soos wat daar tussen u pa en my pa was. Kyk, ek stuur vir u ’n geskenk van silwer en goud. Verbreek tog u ooreenkoms met koning Baesa van Israel sodat hy van my af kan wegtrek.”

20. Ben-Hadad het na Asa se versoek geluister. Hy het sy leëraanvoerders gestuur om die stede van Israel aan te val. Hulle het die dorpe Ijon, Dan, Abel-Bet-Maäka en die hele Gennesaret en ook die hele gebied van Naftali verower.

21. Toe Baesa van Israel hoor wat besig is om te gebeur, het hy die bouwerk by Rama laat staan en in Tirsa gaan woon.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 15