Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 15:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. In die agtiende regeringsjaar van Jerobeam seun van Nebat het Abia koning van Juda geword.

2. Hy het drie jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Maäka, dogter van Abisalom.

3. Hy het dieselfde sondes gepleeg as sy pa voor hom. Hy het nie die Here sy God met oorgawe gedien soos sy voorsaat Dawid nie.

4. Maar ter wille van Dawid het die Here sy God sy koningshuis in Jerusalem laat voortbestaan deur vir hom ’n seun te gee om ná hom in Jerusalem te regeer en die stad in stand te hou.

5. Dit was so omdat Dawid gedoen het wat die Here se goedkeuring geniet het en die voorskrifte van die Here sy lewe lank gehoorsaam het, behalwe in die geval van Urija die Hetiet.

6. Daar was voortdurend oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam, al die dae van Rehabeam se lewe.

7. Die ander gebeurtenisse tydens Abia se regering en alles wat hy gedoen het, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Juda. Daar was ook oorlog tussen Abia en Jerobeam.

8. Toe Abia sterf, is hy in die Dawidstad begrawe. Sy seun Asa het hom as koning opgevolg.

9. Asa het in die twintigste regeringsjaar van Jerobeam van Israel koning van Juda geword.

10. Hy het 41 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Maäka, dogter van Abisalom.

11. Asa het gedoen wat die Here se goedkeuring geniet het net soos sy voorvader Dawid.

12. Hy het die tempelprostitute uit die land verban en al die afgode wat sy voorgangers gemaak het, weggeneem.

13. Hy het selfs sy ma Maäka onthef van haar posisie as koninginmoeder omdat sy ’n afskuwelike beeld ter ere van Asjera laat maak het. Hy het dit stukkend gekap en in die Kidrondal verbrand.

14. Hoewel die hoogtes nie verwyder is nie, het Asa nogtans gedurende sy hele lewe aan die Here getrou gebly.

15. Hy het ook die silwer en goue offergereedskap wat hy en sy pa aan God gewy het, na die tempel toe gebring.

16. Daar was voortdurend oorlog tussen Asa en koning Baesa van Israel.

17. Koning Baesa van Israel het Juda binnegeval en Rama versterk om sodoende te verhoed dat enigiemand koning Asa van Juda se gebied kon binnekom of verlaat.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 15