Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 11:1-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Koning Salomo het baie buitelandse vroue liefgekry. Benewens die farao se dogter het hy vroue uit Moab, Ammon, Edom, Sidon en uit die Hetiete gehad.

2. Die Here het duidelik vir die Israeliete gesê: “Julle mag nie met hierdie nasies ondertrou nie. Hulle sal julle verlei om hulle gode te aanbid.” Nogtans het Salomo op hulle verlief geraak.

3. Hy het 700 vroue van koninklike afkoms gehad en 300 byvroue. Hierdie vroue het hom toe inderdaad verlei.

4. Toe Salomo oud geword het, het hulle hom verlei om ander gode te dien. Hy het nie meer die Here sy God met soveel toewyding gedien soos sy pa, Dawid, gedoen het nie.

5. Salomo het Astarte, die godin van die Sidoniërs, en Milkom, die afskuwelike godin van die Ammoniete, aanbid.

6. Dit wat Salomo gedoen het, was verkeerd vir die Here. Hy het nie meer die Here met volle oorgawe gedien soos sy pa, Dawid, nie.

7. Op die heuwel oos van Jerusalem het hy selfs ’n hoogte vir Kemos, die walglike god van Moab, gebou, asook een vir Molek, die afskuwelike god van die Ammoniete.

8. Salomo het sulke hoogtes vir al sy buitelandse vroue gemaak sodat hulle daar wierook kon brand en offers aan hulle gode kon bring.

9. Die Here was baie ontevrede met Salomo omdat hy die Here, die God van Israel wat twee keer aan hom verskyn het, verlaat het.

10. Hy het Salomo uitdruklik gewaarsku om nie ander gode te dien nie. Nogtans het Salomo nie na die bevele van die Here geluister nie.

11. Die Here sê toe vir hom: “Aangesien jy die verbond met My verbreek het en ongehoorsaam was aan my opdragte, sal Ek sekerlik die koninkryk van jou afskeur en dit vir een van jou onderdane gee.

12. Ter wille van jou pa, Dawid, sal Ek dit nie in jou leeftyd doen nie, maar wel wanneer jou seun koning geword het.

13. Ek sal ook nie die hele koninkryk afskeur nie. Ter wille van my dienaar Dawid en ter wille van Jerusalem wat Ek uitgekies het, sal Ek wel een stam vir jou seun laat oorbly.”

14. Toe het die Here Hadad die Edomiet, ’n familielid van die koning van Edom, aangepor om teen Salomo in opstand te kom.

15. Jare vantevore het Dawid saam met Joab, die opperbevelhebber van sy leër, na Edom toe gegaan om dié wat gesneuwel het, te begrawe. Dit was nadat die leër van Israel feitlik elke manlike persoon in Edom doodgemaak het.

16. Dit het Joab en sy leër ses maande geneem om al die mans dood te maak.

17. Maar Hadad, wat toe nog maar ’n jong seun was, het saam met sommige Edomiete uit die hofhouding van sy pa in die rigting van Egipte gevlug.

18. Hulle het deur Midian na Paran toe getrek. Daar het nog mense by hulle aangesluit. Hiervandaan het hulle na Egipte toe gegaan, na die farao, die koning van Egipte. Hy het vir hulle woonplek, kos en grond gegee.

19. Die farao het so baie van Hadad gehou dat hy sy skoonsuster, die suster van sy vrou koningin Tagpenes, vir hom as vrou gegee het.

20. Sy het vir Hadad ’n seun, Genubat, in die wêreld gebring. Tagpenes het hom saam met die farao se eie kinders in die farao se paleis grootgemaak.

21. Toe Hadad in Egipte hoor dat sowel Dawid as Joab, die opperbevelvoerder van sy leër, dood is, sê hy vir die farao: “Laat my gaan sodat ek na my eie land kan terugkeer.”

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 11