Ou Testament

Nuwe Testament

Titus 2:2-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Leer die ouer mans om selfbeheersing te beoefen, om respek te verdien, en om verstandig te lewe. Hulle moet ’n gesonde geloof hê en vervul wees met liefde en geduld.

3. Net so moet jy ook die bejaarde vroue onderrig om só te leef soos dit iemand betaam wat aan die Here toegewy is. Hulle moet nie rondloop en skinder nie, ook nie aan wyn verslaaf wees nie. Hulle moet liewer goeie dinge vir ander leer.

4. Hierdie bejaarde vroue moet die jong vroue leer om hulle mans en kinders lief te hê

5. en om met selfbeheersing en rein te leef, om goeie tuisteskeppers te wees wat onderdanig is aan hulle eie mans. Dan sal die boodskap van God nie belaster word nie.

6. Net só moet jy die jonger mans aanmoedig om met selfbeheersing te lewe

7. in alles. Jy moet ’n goeie voorbeeld stel, suiwerheid in die leer handhaaf,

8. met gesonde en onaanvegbare prediking. Dan sal die teenstanders beskaamd staan omdat hulle dan niks slegs oor ons te sê het nie.

9. Die slawe moet in alle opsigte aan hulle eie eienaars onderdanig wees en hulle tevrede hou. Hulle moet nie teëstribbel of

10. steel nie, maar toon dat hulle goed en ten volle betroubaar is. Op só ’n manier sal hulle in alles wat hulle aanpak, die onderrig oor ons Verlosser aantreklik maak.

11. Die liefdevolle goedheid van God wat verlossing bring, het inderdaad vir almal sigbaar geword.

12. Dit voed ons op om die goddelose leefstyl en die wêreldse begeertes af te lê en gebalanseerd, volgens die wil van God en toegewyd aan Hom, in die huidige tyd te leef.

13. Ondertussen sien ons daarna uit dat die wonderlike hoop wat ons koester, ’n werklikheid sal word en dat die heerlikheid van ons groot God en Verlosser, Jesus Christus, sigbaar sal word.

14. Hy het sy lewe vir ons gegee om ons los te koop van alles wat voor God verkeerd is, en om ons te reinig van alle sonde sodat ons sy volk kan wees wat net aan Hom behoort, entoesiasties om die goeie te doen.

15. Oor hierdie dinge moet jy praat. Met gesag moet jy ook bemoedig en teregwys. Moenie toelaat dat iemand jou geringskat nie.

Lees volledige hoofstuk Titus 2