Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 9:16-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Dit hang dus nie van ons af of ons God se belofte ontvang nie. Ons kan dit nie toe-eien deur dit te begeer of ons daarvoor in te span nie. Dit hang af van God se ontferming.

17. Die Skrif verklaar mos dat God vir Farao gesê het: “Ek het jou juis hiervoor aangehits – Ek wil deur jou optrede my krag bekendmaak sodat my Naam oor die hele wêreld geroem sal word.”

18. Dit is dus duidelik – God ontferm Hom oor wie Hy wil, en Hy verhard wie Hy wil.

19. Jy sou nou kon vra: “Hoe kan God mense nog blameer as hulle nie luister nie? Hulle het tog maar net gedoen waartoe God hulle verplig het. Hulle kan tog nie teen sy besluit ingaan nie.”

20. O mensekind, sit jou hand op jou mond! Wie is jy om God te kritiseer! Kan die produk van iemand se handewerk vir sy vervaardiger sê: “Hoekom het jy my juis só gemaak?”

21. As ’n pottebakker byvoorbeeld kleikruike maak, is dit nie sy volste reg om uit dieselfde klei ’n sierkruik én ’n vullisbak te maak nie?

22. Net so het God ook die volste reg om die voorwerpe van sy oordeel, wat vir ondergang gereedgemaak is, nog met groot geduld te verdra sodat Hy uiteindelik sy oordeel en sy mag bekend kan maak.

23. Net so het Hy die volste reg om sy oorvloedige heerlikheid bekend te maak oor die voorwerpe van sy ontferming wat Hy voorberei het om sy heerlikheid te ontvang.

24. Ons is hierdie voorwerpe – ons vir wie Hy geroep het, nie net uit die Jode nie, maar ook uit die nie-Joodse nasies.

25. Oor laasgenoemde sê God in die boek Hosea tereg:“Hulle wat nie my volk was nie,sal Ek nou mý volk noem.En Ek sal haar liefhê wat nie voorheen my geliefde was nie.”

26. En: “Dáár waar vir hulle gesê is:‘Julle is nie my volk nie,’juis daar sal hulle kindersvan die lewende God genoem word.”

Lees volledige hoofstuk Romeine 9