Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 9:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Voor Christus verklaar ek plegtig – ek vertel nie ’n leuen nie – en my gewete, bekragtig deur die Heilige Gees, bevestig dat wat ek nou gaan sê die waarheid is:

2. Ek beleef ’n ontsaglike hartseer, ja, ek dra ’n permanente pyn in my om

3. oor my broers en susters, my volksgenote. Ek sou selfs ter wille van hulle deur God vervloek wou wees – afgesny van Christus – as dit hulle kon red.

4. Hulle is tog Israeliete, bevoorreg tot kindskap. God het sy heerlikheid aan hulle bekendgemaak. Hy het verbonde met hulle gesluit en sy wet vir hulle gegee. Hulle is bevoorreg om Hom te aanbid en Hy het wonderlike beloftes aan hulle gemaak.

5. Hulle het eerbiedwaardige voorvaders gehad en uit hulle is Christus as mens gebore – Hy wat tegelyk God bo alles is en aan wie die lofprysing vir altyd en altyd toekom! Amen.

6. Dit impliseer egter nie dat God se beloftes aan die Jode nou ongeldig geword het nie. Ons moet in gedagte hou dat nie almal wat uit ’n Israelitiese familie gebore word, ware Israeliete is nie.

7. Die blote feit dat mense afstammelinge van Abraham is, maak hulle nog nie ware kinders van Abraham nie. Want die Skrif sê: “Isak is die seun uit wie jou nageslag sal kom.”

8. Dit beteken dat Abraham se fisiese kinders nie noodwendig ook almal Gód se kinders is nie, maar dit is die kinders van die belofte wat Abraham se ware nageslag is.

9. Want God het soos volg belowe: “Volgende jaar sal Ek terugkom, en dan sal Sara ’n seun hê.” Hierdie seun was ons voorvader Isak.

10. Dis nie al nie. Rebekka was ook net een keer swanger. Sy het ’n tweeling by ons voorvader Isak gehad.

11. Nog voordat hulle gebore is, ja, nog voordat hulle enigiets goeds of slegs gedoen het, het God reeds vir haar ’n boodskap gehad – wat bewys dat God volgens sy eie plan kies,

12. nie volgens ons dade nie. Die boodskap aan haar was: “Die oudste kind sal die jongste een dien.”

13. In die woorde van die Skrif: “Ek het vir Jakob liewer gehad as vir Esau.”

14. Wat moet ons hierop sê? Dat God onbillik is? Beslis nie!

15. Hy sê tog vir Moses:“Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm,en Ek sal barmhartigheid betoonteenoor wie Ek dit wil doen.”

16. Dit hang dus nie van ons af of ons God se belofte ontvang nie. Ons kan dit nie toe-eien deur dit te begeer of ons daarvoor in te span nie. Dit hang af van God se ontferming.

17. Die Skrif verklaar mos dat God vir Farao gesê het: “Ek het jou juis hiervoor aangehits – Ek wil deur jou optrede my krag bekendmaak sodat my Naam oor die hele wêreld geroem sal word.”

18. Dit is dus duidelik – God ontferm Hom oor wie Hy wil, en Hy verhard wie Hy wil.

Lees volledige hoofstuk Romeine 9