Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 8:29-38 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

29. Want God het hulle reeds vooruit geken, en Hy het hulle aangewys om net soos sy Seun te word. Op hierdie manier sal Christus Jesus die oudste seun wees, omring deur baie broers en susters.

30. Dié wat Hy vooruit aangewys het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, aan hulle het Hy heerlikheid gegee.

31. Wat sal ons dan van al hierdie wonderlike dinge sê? As God aan ons kant is, wie kan ooit téén ons wees?

32. As God nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgegee het, sal Hy nie saam met Hom ook alle ander dinge aan ons skenk nie?

33. Wie sal dit waag om ons aan te kla as God ons spesiaal uitgekies het? God is immers die Een wat ons vryspreek.

34. Wie sal ons veroordeel? Christus Jesus is tog die Een wat vir ons gesterf het, wat boonop ook opgestaan het, wat op die ereplek langs God sit en wat daar vir ons pleit.

35. Kan enigiets ons ooit van Christus se liefde skei? Sal dinge soos lyding of benoudheid of vervolging, honger of koue, of gevaar of doodsdreiging dit regkry?

36. Selfs die Skrif verklaar tog: “Om u ontwil bedreig die dood ons die hele dag en word ons as slagskape beskou.”

37. Tog is ons ten spyte van al hierdie dinge besig om ’n klinkende oorwinning te behaal – deur Christus wat sy liefde so duidelik aan ons bewys het.

38. Een ding weet ek vas en seker: Niks kan ons ooit van Christus se liefde skei nie. Nie dood of lewe of engele of duiwelse magte nie; nie ons vrees vir vandag of ons kommer oor môre nie; ook nie bo-aardse magte nie.

Lees volledige hoofstuk Romeine 8