Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 8:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem.

2. Die lewegewende Gees is so magtig dat Hy jou deur Christus Jesus bevry het van die greep van die sonde wat uitloop op die dood.

3. Die wet van Moses kon ons as gevolg van ons sondige natuur nie verlos nie. Daarom het God sy eie Seun met ’n menslike natuur soos ons sondige menslike natuur na ons toe gestuur om as offer vir ons sonde te dien. Daarmee het Hy afgereken met die sonde in ons menslike bestaan,

4. sodat ons kan voldoen aan die vereiste van die wet – ons wat nou nie meer volgens ons sondige natuur lewe nie, maar volgens die Gees.

5. Die mense wat deur hulle sondige natuur gedomineer word – hulle gedagtes word oorheers deur sondige dinge. Maar dié wat deur die Gees beheer word – hulle gedagtes is vol van die dinge wat die Gees gelukkig maak.

6. As jou sondige natuur jou denke oorheers, lei dit tot die dood. Maar as die Gees jou denke oorheers, beteken dit vir jou ware lewe en vrede.

7. Want die sondige natuur is altyd vyandig ingestel teenoor God. Dit rebelleer teen God se wet, want dit is in sy aard.

8. Dit is waarom die mense wat deur hulle sondige natuur beheer word, God nooit gelukkig kan maak nie.

9. Maar julle word nie deur julle sondige natuur beheer nie. Julle word beheer deur die Gees omdat die Gees van God in julle woon. Onthou, iemand wat nie die Gees van Christus het nie, is nie een van sy mense nie!

10. As Christus in julle lewe, is julle liggame wel nog as gevolg van die sonde aan die dood onderhewig, maar julle gees leef omdat julle saak met God reggemaak is.

11. Omdat die Gees van die God wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle dooie liggame weer lewendig maak deur dieselfde Gees wat in julle woon.

Lees volledige hoofstuk Romeine 8