hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ons is dood vir die sonde en

moet nou vir God lewe

1. Beteken dit nou dat ons in die sonde moet voortlewe sodat die genade steeds oorvloediger kan word?

2. Hoegenaamd nie! Ons is immers dood vir die sonde. Dis tog onmoontlik dat ons nog langer daarin kan voortlewe!

3. Of het julle vergeet dat ons met ons doop een geword het met Christus Jesus en so saam met Hom gesterf het?

4. Deur die doop is ons saam met Hom begrawe as mense wat deel in sy dood. En nou kan ons, net soos Christus wat deur ’n heerlike magsdaad van die Vader opgewek is, ook ’n totaal nuwe lewe leef.

5. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons ook saam met Hom opgewek word tot ’n nuwe lewe.

6. Ons weet dat ons ou, sondige self saam met Christus gekruisig is sodat die sonde se mag oor ons verbreek kan word en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie.

7. Want as iemand sterf, word hy vry van die mag van die sonde.

8. Aangesien ons saam met Christus gesterf het, weet ons dat ons ook deel sal hê aan sy lewe.

9. Ons weet dit omdat Christus uit die dood opgewek is en nooit weer sal sterf nie. Die dood het geen mag meer oor Hom nie.

10. Hy het eens en vir altyd vir die sonde gesterf en nou leef Hy vir God.

11. Julle moet dus ook vir seker weet dat julle vir die sonde dood is, en nou vir God lewe deurdat julle met Christus Jesus één is.

12. Julle moet dus nie langer toelaat dat sonde julle aardse lewe beheer nie; moenie toegee aan sy verleidelike begeertes nie.

13. Julle is betrokke in ’n geestelike oorlog. Moenie langer julle liggaamlike vermoëns as wapens van ongeregtigheid vir die sonde beskikbaar stel nie, maar stel julleself voortdurend vir God beskikbaar omdat julle uit die dood weer lewendig geword het. Stel al julle liggaamlike vermoëns as wapens van geregtigheid tot God se beskikking.

14. Die sonde mag hoegenaamd nie oor julle heerskappy voer nie. Julle leef immers nie meer onder die verslawende mag van die wet nie, maar onder die bevrydende mag van die genade.

15. Aangesien God se genade ons vrygemaak het van die wet, beteken dit dat ons nou maar kan voortgaan met sonde doen? Hoegenaamd nie!

16. Besef julle nie dat dít waarvoor ’n mens jou as slaaf beskikbaar stel, jou baas word nie? Jy kan die sonde kies en daarmee saam die dood, of jy kan kies om God te gehoorsaam en volgens sy wil te lewe.

17. Julle moet vir God dankie sê dat julle wat voorheen slawe van die sonde was, nou met julle hele hart gehoorsaam geword het aan die ware evangelie wat aan julle oorgelewer is.

18. Verlos van die sonde het julle nou slawe geword van dit wat reg is voor God.

19. Ek praat op hierdie manier van slawe en base omdat dit makliker is om te verstaan. Voorheen het julle julle liggaamlike vermoëns diensbaar gemaak aan onreinheid en wetteloosheid en ’n wilde lewe gelei; net so moet julle nou al julle liggaamlike vermoëns aan die geregtigheid diensbaar maak en ’n lewe lei wat aan God toegewy is.

20. Destyds toe julle slawe van die sonde was, het julle julle nie gesteur aan wat reg is voor God nie.

21. En wat was die resultaat? Julle skaam julle nou daaroor, want wat julle destyds gedoen het, eindig in die ewige dood.

22. Maar noudat julle vrygemaak is van die sonde en volledig in God se diens staan, is die resultaat daarvan ’n lewe van toewyding aan God en die eindresultaat – die ewige lewe!

23. Want wat die sonde uitbetaal, is die dood. Maar God se genadegeskenk is die ewige lewe wat ons deel word deur Christus Jesus ons Here!