Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 5:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. As mense wat deur God vrygespreek is omdat ons glo, het ons nou vrede met God op grond van wat Jesus Christus ons Here gedoen het.

2. Deur Jesus Christus het ons, deurdat ons glo, toegang verkry tot hierdie heerlike posisie van genade waarin ons ons nou bevind, en ons jubel vol verwagting oor die heerlikheid wat God aan ons gaan gee.

3. Dis egter nie al nie – ons jubel selfs in ons swaarkry, want ons besef dat die swaarkry ons leer om te volhard.

4. Op sy beurt kweek volharding betroubaarheid van karakter; en betroubaarheid van karakter versterk ons toekomsverwagting.

5. En hierdie toekomsverwagting sal ons nie teleurstel nie, want ons weet hoe lief God ons het. Hy het sy liefde mos in ons harte uitgestort deur sy Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.

6. Ja, juis toe ons nog totaal hulpeloos was, het Christus vir ons, die goddeloses, kom sterf.

7. ’n Persoon sal kwalik bereid wees om vir ’n regverdige mens te sterf. Miskien sal iemand nog kans sien om vir ’n besonder goeie mens te sterf.

8. God laat blyk sý liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was.

9. Ons is nou vrygespreek deur Jesus se dood. Hoeveel te meer sal Hy ons nie, deur Jesus, verlos van die toekomstige oordeel nie!

10. Want as God ons, terwyl ons nog sy vyande was, deur die dood van sy Seun tot sy vriende gemaak het, hoeveel te meer sal Hy ons nie noudat ons sy vriende is, deur Hom, die lewende Jesus, van die oordeel red nie!

Lees volledige hoofstuk Romeine 5