Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 3:22-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

22. God spreek ons vry deur geloof in Christus Jesus en dit geld sonder onderskeid vir almal wat glo.

23. Ons het immers almal gesondig. Ons almal het God beroof van die eer wat Hom toekom.

24. Maar nou spreek God ons in sy genade vry op grond van die verlossing wat Christus Jesus vir ons verkry het – en dit sonder enige verdienste van ons kant.

25. -

26. Want God het Hom gestuur as ’n offer wat deur sy sterwe versoening bewerk het vir almal wat glo. Op hierdie manier het Hy duidelik aangetoon wat sy vryspraak behels: Aan die een kant het Hy die sondes vergewe wat vroeër in die tyd van sy verdraagsaamheid begaan is; aan die ander kant het Hy ook duidelik aangetoon wat sy vryspraak nóú behels. Op hierdie manier blyk dit dat Hy nie net regverdig is nie, maar terselfdertyd ook elkeen regverdig verklaar wat in Jesus glo.

27. Kan ons ons dus daarop beroem dat ons enigiets gedoen het om die vryspraak te verdien? Dis heeltemal buite die kwessie, want ons vryspraak berus nie op ons goeie dade nie, maar op ons geloof.

28. Ons is immers daarvan oortuig dat mense vrygespreek word deurdat hulle glo en nie deur wetsgehoorsaming nie.

29. Per slot van sake is God nie net ’n God van die Jode nie, maar ook van die nie-Jode.

30. Daar is net een God en daar is net een manier om sy vryspraak te ontvang. Hy spreek mense vry net deurdat hulle glo – en dit geld vir Jode sowel as nie-Jode.

31. As ons die geloof beklemtoon, beteken dit dan dat ons die wet ter syde stel? Natuurlik nie! In werklikheid laat ons die wet juis tot sy reg kom.

Lees volledige hoofstuk Romeine 3