Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 16:13-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

13. Groete vir Rufus, uitverkorene van die Here, en sy ma wat ook vir my ’n ma was.

14. Dra ook my groete oor aan Asinkritus, Flegon, Hermes, Patrobas, Hermas en die broers en susters daar by hulle.

15. My groete ook aan Filologus en Julia, Nereus en sy suster, asook aan Olimpas en al die ander Christene wat daar by hulle is.

16. Groet mekaar met die soen van Christelike liefde. Al die gemeentes van Christus stuur vir julle groete.

17. Nog ’n laaste beroep op julle, broers en susters. Wees op die uitkyk vir mense wat verdeeldheid veroorsaak en Christene se geloof ondergrawe deur dinge te verkondig wat bots met dit wat julle geleer het. Vermy hulle.

18. Sulke mense dien nie vir Christus ons Here nie, maar hulle eie persoonlike belange. Deur hulle mooipraatjies en vleitaal mislei hulle naïewe mense.

19. Almal weet egter van julle gehoorsaamheid aan die Goeie Nuus. Ek verheug my oor julle en ek wil graag hê dat julle duidelik sal besef wat goed is en dat julle nie slim sal wees wat die verkeerde betref nie.

20. Die God van vrede sal Satan binnekort onder julle voete verpletter. Mag die genade van ons Here Jesus met julle wees.

21. Timoteus, my medewerker, en Lucius, Jason en Sosipater, my volksgenote, stuur vir julle groete.

22. Ek, Tertius, wat hierdie brief neergeskryf het, stuur vir julle Christengroete.

23. Gaius sê ook vir julle groete. Hy is my gasheer en hy stel ook sy huis vir die hele gemeente beskikbaar. Erastus, die stadstesourier, stuur vir julle sy groete; ook ons broer Kwartus.

25. God is magtig om julle te laat vasstaan volgens die Goeie Nuus aangaande Jesus Christus wat ek verkondig en ook volgens die plan wat God nou bekendgestel het. Hierdie plan het eeue lank geheim gebly,

26. maar is nou onthul. Soos deur die profete voorspel en in opdrag van die ewige God, is dit aan alle volke bekendgemaak sodat hulle kan glo en die Goeie Nuus kan gehoorsaam.

27. Aan dié God wat enkel en alleen die ware wysheid is, kom die heerlikheid toe, deur Jesus Christus, vir altyd en altyd. Amen.

Lees volledige hoofstuk Romeine 16