hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Wees aan die regering

gehoorsaam

1. Julle moet die owerheid gehoorsaam, want God het dit daar geplaas. Geen owerheid bestaan buite God se toedoen nie.

2. Dit impliseer dat hulle wat weier om die owerheid te gehoorsaam, hulle teen die instelling van God verset. Dié wat dít doen, bring ’n oordeel oor hulleself.

3. Mense wat reg optree, hoef nie vir die owerhede bang te wees nie – die kwaaddoeners wel. As jy op goeie voet met die owerhede wil wees, handel dan volgens die wet en jy sal selfs van hulle lof ontvang!

4. Die owerheid is immers ’n dienaar van God om jou beste belange te bevorder. Maar as jy jou met die verkeerde besig hou, sal jy vanselfsprekend benoud wees, want die owerheid besit nie verniet die mag om te straf nie. Die owerheid is immers ook hierin God se dienaar dat hy die straf aan die kwaaddoener moet voltrek.

5. Om saam te vat: wees aan die regering gehoorsaam en wel om twee redes: nie net om straf te vermy nie, maar ook ter wille van ’n skoon gewete.

6. Daarom moet julle ook julle belasting betaal. Hulle is immers dienaars van God wanneer hulle hulle taak getrou uitvoer.

7. Kom dan julle verpligtings teenoor almal na: betaal belasting aan dié wat dit van julle vra, tolgeld en alle soortgelyke heffings aan dié wat dít van julle vereis; en respekteer en eer almal aan wie julle dit verskuldig is.

Beoefen liefde en wees

waaksaam

8. Betaal alles wat julle verskuldig is, maar die een rekening wat julle altyd verskuldig sal bly, is om mekaar lief te hê. As jy jou naaste liefhet, vervul jy die wet.

9. Want elke verbod, dié teen egbreuk, teen moord, teen diefstal, teen verkeerde begeertes – en watter ander een daar ook mag wees – word opgesom in hierdie een groot opdrag: “Jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.”

10. Die liefde doen niemand kwaad aan nie. Daarom voldoen die liefde aan al God se vereistes.

11. Julle moet hierdie dinge doen omdat julle besef dat die tyd besig is om uit te loop. Dit is dringend tyd om wakker te word, want die tyd van ons finale verlossing is nou al weer ’n hele ent nader as toe ons gelowig geword het.

12. Die nag is byna verby, die dag is so te sê hier. Kom ons trek daardie vuil sondeklere uit wat in die donker tuishoort, en ons trek die wapenrusting aan wat pas by ’n lewe in die lig.

13. Ons moet ordentlik lewe sodat dit die toets van die daglig kan deurstaan. Ons moet nie betrokke wees by wilde en dronkwordpartytjies, by seksuele en losbandige uitspattigheid, of onenigheid of afgunstigheid nie.

14. Nee, soos ’n mens jou klere aantrek, moet julle die Here Jesus Christus “aantrek”, en nie ’n duimbreedte toegee aan die begeertes van julle sondige natuur nie.