Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 1:7-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

7. Ek skryf aan julle almal in Rome – julle vir wie God liefhet en vir wie Hy geroep het om sý mense te wees.Mag die genade en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus met julle wees.

8. Hier heel aan die begin wil ek vir julle vertel hoe ek vir God in die Naam van Jesus Christus dankie sê vir elkeen van julle, want die hele wêreld praat van julle geloof.

9. Dié God wat ek met hart en siel dien deurdat ek hierdie Goeie Nuus omtrent sy Seun uitdra, is my getuie dat julle dag en nag in my gedagtes is.

10. Elke keer smeek ek dat God, as dit sy wil is, tog nou uiteindelik vir my die pad sal oopmaak om by julle uit te kom.

11. Ek begeer met my hele hart om julle te besoek. Ek wil vir julle ’n geestelike seëning bring om julle in julle geloof te versterk.

12. Eintlik bedoel ek dat ons mekáár dan oor en weer sal kan bemoedig deur ons gemeenskaplike geloof.

13. Broers en susters, julle moet beslis weet dat ek my al dikwels voorgeneem het om na julle toe te kom. Ek hoop om ook onder julle ’n geseënde bediening te hê, net soos onder die ander nie-Jode waar ek gewerk het.

14. Ek het ’n groot verantwoordelikheid teenoor almal – maak nie saak of hulle van ons eie kultuur of van ’n ander kultuur is, of hoe opgevoed of onopgevoed hulle is nie.

15. Daarom is ek gretig om ook aan julle in Rome die Goeie Nuus te verkondig.

16. Vir hierdie Goeie Nuus is ek allesbehalwe skaam. Dit is immers God se krag wat hier aan die werk is. Dit bring verlossing vir elkeen wat glo – heel eerste vir die Jode, maar ook vir die nie-Jode.

Lees volledige hoofstuk Romeine 1