Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 3:9-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Kyk, daardie mense vanuit die geledere van die sinagoge van Satan wat beweer dat hulle Jode is, maar dit nie is nie maar lieg – Ek sal hulle verplig om voor jou voete neer te buig en te erken dat Ek jou liefgehad het.

10. Omdat jy vasgehou het aan die getuienis van hoe Ek volhard het, sal Ek jou ook bewaar gedurende die tyd van hewige toetsing wat vir die hele bewoonde wêreld voorlê – daardie tyd wanneer al die bewoners van die aarde deeglik getoets word.

11. Ek kom gou; hou vas wat jy het sodat niemand jou kroon wegneem nie.

12. Die een wat aanhou oorwin, hom sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hulle sal nooit weer daaruit weggeneem word nie. Ek sal op hulle die Naam van my God graveer, asook die naam van die stad van my God, naamlik die nuwe Jerusalem wat neerdaal uit die hemel, van my God af, asook my nuwe Naam.

13. Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.

14. Skryf aan die voorganger van die gemeente in Laodisea: So sê die Amen, die getroue en betroubare getuie, die oorsprong van God se skepping:

15. Ek ken jou handel en wandel. Ek weet dat jy nie koud of warm is nie. Was jy tog maar net koud of warm.

16. Omdat jy so louwarm is, nie warm nie en ook nie koud nie, is Ek op die punt om jou uit my mond te spoeg.

17. Jy sê: “Ek is ryk; ek het skatryk geword en het aan niks behoefte nie.” Jy besef nie dat jy ellendig en bejammerenswaardig is nie, armlastig, blind en kaal.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 3