Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 21:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien; want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan en die see het nie meer bestaan nie.

2. Ek het ook die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien neerkom. Die nuwe Jerusalem was soos ’n bruid wat vir haar eggenoot mooigemaak is.

3. Ek het toe ’n kragtige stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die tentwoning van God is nou onder die mense opgeslaan. Hy sal by hulle bly, en hulle sal sy volke wees en God sal self by hulle wees as hulle God.

4. Hy sal elke traan van hulle oë afvee en die dood sal glad nie meer bestaan nie. Ook hartseer of smartkrete of pyn sal glad nie meer bestaan nie. Die ou dinge het verbygegaan.”

5. Hy wat op die troon sit, het toe gesê: “Kyk, Ek maak alle dinge nuut.” En Hy sê verder: “Teken dit aan, want hierdie woorde is geloofwaardig en betroubaar.”

6. Verder het Hy vir my gesê: “Dit is afgehandel. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Iemand wat dors het, sal Ek verniet laat drink uit die fontein met lewegewende water.

7. Die een wat aanhou oorwin, sal hierdie dinge erf, en Ek sal vir hom God wees en hy sal vir My ’n kind wees.

8. “Maar vir die oneerlikes, onbetroubares, korruptes, moordenaars, persone wat seksuele sondes doen, towenaars, afgodsdienaars en al die leuenaars wag die poel wat met vuur en swael brand. Dit is die tweede dood.”

9. Toe het een van die sewe engele wat die sewe bakke vashou wat vol was met die laaste sewe plae, nadergestaan en aan my gesê: “Kom, ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.”

10. Hy het my toe in die Gees na ’n groot en hoë berg geneem en die heilige stad Jerusalem, wat van God af uit die hemel afgekom het, aan my gewys.

11. Die stad was gevul met die heerlikheid van God. Dit het gestraal, net soos ’n baie kosbare steen, soos ’n kristalhelder jaspis.

12. Die stad het ook ’n groot en hoë muur gehad waarin twaalf poorte was. By die poorte is daar twaalf engele, met twaalf name op die poorte gegraveer; dit is die name van die twaalf stamme van Israel.

13. Aan die oostekant is daar drie poorte, aan die noordekant drie, aan die suidekant drie en aan die westekant drie.

14. Die stadsmuur het twaalf fondamentstene waarop die twaalf name van die twaalf apostels van die Lam geskryf staan.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 21