Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 16:9-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. Die mense is deur ’n hewige gloed geskroei en hulle het die Naam van God gevloek wat mag het oor hierdie plae. Hulle het egter nie tot inkeer gekom en aan Hom eer betoon nie.

10. Die vyfde engel het sy bak op die troon van die monster uitgegooi, en sy koninkryk is in duisternis gedompel. Die mense het hulle tonge begin byt van die pyn

11. en het die God van die hemel gevloek oor hulle pyne en sere. Hulle het hulle egter nie bekeer van hulle verkeerde dade nie.

12. Die sesde engel het toe sy bak op die groot Eufraatrivier uitgegooi. Sy vloei het opgedroog om ’n pad gereed te maak vir die konings wat van die ooste af kom.

13. Toe merk ek op dat uit die bek van die draak en uit die bek van die monster en uit die bek van die vals profeet drie onrein geeste kom, net soos paddas.

14. Dié geeste wat wondertekens doen, is van bose geeste afkomstig. Hulle gaan uit na die konings oor die hele bewoonde aarde heen om hulle bymekaar te maak vir die oorlog op die beslissende dag van God, die Almagtige.

15. “Wees bedag, Ek kom onverwags, net soos ’n dief. Geseënd is elkeen wat wakker loop en sy klere gereed hou sodat hy nie kaal hoef te loop en die mense sy verleentheid sien nie.”

16. Die geeste het die konings bymekaargemaak op die plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word.

17. Die sewende engel het toe sy bak in die lug uitgegooi. ’n Kragtige stem het uit die rigting van die tempel, waar die troon ook is, gekom en gesê: “Dit is afgehandel.”

18. Toe het daar weerligstrale, dreunings en donderslae gekom. Daar was ook ’n reuse aardbewing soos wat daar nog nie was vandat die mens op die aarde gekom het nie – só ’n groot aardbewing was dit.

19. Die groot stad is in drie dele geskeur, en die stede van die nasies het ineengetuimel. God het dus hoegenaamd nie vergeet om vir die grote Babilon die beker met die wyn van sy woedende toorn te gee nie.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 16