Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 16:14-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

14. Dié geeste wat wondertekens doen, is van bose geeste afkomstig. Hulle gaan uit na die konings oor die hele bewoonde aarde heen om hulle bymekaar te maak vir die oorlog op die beslissende dag van God, die Almagtige.

15. “Wees bedag, Ek kom onverwags, net soos ’n dief. Geseënd is elkeen wat wakker loop en sy klere gereed hou sodat hy nie kaal hoef te loop en die mense sy verleentheid sien nie.”

16. Die geeste het die konings bymekaargemaak op die plek wat in Hebreeus Armageddon genoem word.

17. Die sewende engel het toe sy bak in die lug uitgegooi. ’n Kragtige stem het uit die rigting van die tempel, waar die troon ook is, gekom en gesê: “Dit is afgehandel.”

18. Toe het daar weerligstrale, dreunings en donderslae gekom. Daar was ook ’n reuse aardbewing soos wat daar nog nie was vandat die mens op die aarde gekom het nie – só ’n groot aardbewing was dit.

19. Die groot stad is in drie dele geskeur, en die stede van die nasies het ineengetuimel. God het dus hoegenaamd nie vergeet om vir die grote Babilon die beker met die wyn van sy woedende toorn te gee nie.

20. Elke eiland het eenvoudig weggeraak, en berge was ook nie meer te vind nie.

21. Groot haelstene, elkeen ongeveer 34 kilogram swaar, het van die hemel af op die mense gereën. Die mense het God egter gevloek oor die haelplaag omdat dit uitermate groot was.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 16