Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 11:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Toe is daar aan my ’n meetstok gegee wat soos ’n septer lyk, en daar is vir my gesê: “Gaan meet die tempel van God en die altaar en die mense wat in die tempel aanbid.

2. Die voorhof wat buitekant die tempel geleë is, moet jy weglaat en dit nie meet nie, omdat dit aan die nasies oorgegee is. Hulle sal die heilige stad 42 maande lank met die voete vertrap.

3. En Ek sal aan my twee getuies, met sakklere aan, opdrag gee om die wil van God vir 1 260 dae lank te verkondig.”

4. Hulle is die twee olyfbome en ook die twee kandelare wat voor die Here van die hele aarde staan.

5. As iemand hulle leed wil aandoen, kom daar vuurvlamme uit hulle monde wat hulle vyande verbrand. Elkeen wat hulle leed wil aandoen, moet só doodgemaak word.

6. Hulle beskik oor die mag om die hemel te sluit sodat dit nie sal reën nie vir die volle tyd wat hulle die wil van God verkondig. Hulle beskik ook oor die mag om die waters in bloed te verander en om die aarde met elke moontlike plaag te tref, so dikwels as wat hulle dit nodig vind.

7. Wanneer hulle egter hulle getuienis klaar gelewer het, sal die dier wat uit die bodemlose put uit opgekom het, teen hulle oorlog maak en hy sal hulle oorwin en doodmaak.

8. Hulle lyke sal langs die breë straat van die groot stad lê. Dit is die stad wat figuurlik Sodom en Egipte genoem word, waar hulle Here ook gekruisig is.

9. Vir drie en ’n half dae lank sal mense vanuit al die volke, stamme, taalgroepe en nasies hulle lyke sien lê. En hulle sal nie toelaat dat die lyke in ’n grafkamer begrawe word nie.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 11