Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 9:26-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

26. Hierdie nuus het soos ’n veldbrand deur die hele omgewing versprei.

27. Toe Jesus daarvandaan verder gaan, het twee blindes agter Hom aan gekom. Hulle het hardop geskreeu: “Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!”

28. Nadat Jesus in die huis gegaan het, kom die blindes na Hom toe. Daarop sê Jesus vir hulle: “Glo julle regtig Ek kan julle gesond maak?” Hulle sê vir Hom: “Ja, Here, ons glo U kan dit doen.”

29. Hy raak toe hulle oë aan en sê: “Soos julle geglo het, sal dit vir julle gebeur.”

30. Daarop kon hulle sien! Jesus het hulle toe ernstig gewaarsku: “Maak seker dat julle niemand hiervan vertel nie.”

31. Ten spyte daarvan het hulle weggegaan en oral gaan vertel hoe wonderlik Jesus is.

32. Die twee wat gesond gemaak is, was nog besig om te vertrek toe mense iemand na Hom toe bring wat stom was omdat ’n bose gees beheer oor hom gehad het.

33. Nadat Jesus die duiwel uit hom gejaag het, het die stom man begin praat. Die skare was oorweldig en het gesê: “So iets het nog nooit in Israel gebeur nie!”

34. Maar die Fariseërs se reaksie was: “Dit is die baasduiwel wat Hom help om duiwels uit mense uit te jaag.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 9