Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 8:16-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Teen die aand het hulle baie duiwelbesetenes na Hom toe gebring. Hy het daardie bose geeste uitgedryf deur hulle aan te spreek en Hy het almal wat siek was, gesond gemaak.

17. So het die uitspraak van Jesaja waar geword wat lui: “Hy het ons kwale weggevat, en ons siektes het Hy weggedra.”

18. Toe Jesus die baie mense rondom Hom sien, het Hy opdrag gegee dat hulle na die oorkant van die see moes vertrek.

19. ’n Skrifkenner kom toe na Hom toe en sê vir Hom: “Leermeester, ek sal U volg, maak nie saak waarheen U gaan nie!”

20. Maar Jesus het vir hom gesê: “Die jakkalse het gate en die voëls het neste, maar Ek, die Seun van die Mens, het geen tuiste waar Ek my kop kan neerlê nie.”

21. Een van sy ander dissipels het vir Hom gesê: “Here, U sal my moet toelaat om eers terug te gaan en my pa te begrawe.”

22. Maar Jesus het vir hom gesê: “Nee, jy moet My nóú volg. Laat die geestelik dooies maar na mekaar omsien.”

23. Jesus het toe in die skuit geklim en sy dissipels het Hom gevolg.

24. Skielik het daar ’n hewige storm oor die see opgekom sodat reuse golwe oor die boot gebreek het. Maar Jesus het gelê en slaap.

Lees volledige hoofstuk Matteus 8