Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 8:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Toe Jesus van die berg af kom, het ’n groot skare Hom gevolg.

2. Daar kom toe onverwags ’n man met ’n ernstige velsiekte nader en val voor Jesus neer met die woorde: “Here, as U wil, kan U my gesond maak.”

3. Daarop steek Jesus sy hand na hom toe uit, raak hom aan en sê: “Ek wil dit vir jou doen. Word gesond!” En dadelik het sy velsiekte verdwyn.

4. Jesus sê toe vir hom: “Sorg dat jy dit vir niemand vertel nie. Maar gaan wys vir die priester dat jy gesond is, en bring die offer wat Moses voorgeskryf het. “So sal jy vir almal duidelik bevestig dat jy gesond geword het.”

5. Toe Hy in Kapernaum aankom, kom pleit daar ’n Romeinse offisier oor honderd by Hom:

6. “Here, my slaaf lê verlam by my huis en hy verduur verskriklike pyn.”

7. Jesus sê vir hom: “Ek sal hom kom gesond maak.”

8. Maar die offisier antwoord Hom: “Here, ek is nie goed genoeg dat U onder my dak inkom nie. Spreek maar net die woord, en my slaaf sal gesond word.

9. Ek staan self onder die gesag van senior offisiere, en ek het weer soldate wat onder my gesag staan. Ek sê vir hierdie een: ‘Gaan,’ en hy gaan, en vir die ander een: ‘Kom,’ en hy kom. En vir my slaaf sê ek: ‘Doen dit,’ en hy maak so.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 8