Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 28:2-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Skielik was daar ’n geweldige aardbewing omdat daar ’n engel van die hemel af gekom, die klip voor die graf weggerol en daarop gaan sit het.

3. Sy gesig het geblink soos weerlig en sy klere was sneeuwit.

4. Die wagte het van angs begin bewe oor die engel en toe soos dooies bewusteloos neergeslaan.

5. Daarop het die engel die vroue aangespreek met die woorde: “Julle hoef nie bang te wees nie. Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is.

6. Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek uit die dood, presies soos Hy gesê het. Kom kyk, hier het sy liggaam gelê.

7. En gaan sê nou dadelik vir sy dissipels: ‘Jesus is uit die dood opgewek, en Hy gaan julle solank vooruit Galilea toe. Julle sal Hom dáár sien.’ Julle kan reken op wat ek vir julle sê.”

8. Hulle het toe haastig van die graf af weggegaan. Oorstelp van skok, maar nog meer van ’n ontsaglike blydskap, het hulle gehardloop om die boodskap aan sy dissipels te gaan gee.

9. En toe, meteens, daar staan Jesus voor die vroue, en Hy sê: “Goeiedag, almal!” Hulle hardloop na Hom toe, gryp sy voete vas en aanbid Hom.

10. Daarop sê Jesus vir hulle: “Julle hoef nie bang te wees nie. Gaan sê vir my broers hulle moet Galilea toe gaan en hulle sal My daar sien.”

11. Terwyl die vroue op pad was, het sommige lede van die wag in die stad ingegaan en vir die priesterhoofde alles vertel wat gebeur het.

12. Hulle het toe saam met die familiehoofde beraadslaag.

13. Hulle het vir die soldate ’n groot som geld aangebied en vir hulle gesê: “Julle moet vir die mense vertel: ‘Sy dissipels het mooi in die nag gekom terwyl ons aan die slaap was, en sy liggaam gesteel.’

14. As die goewerneur hiervan hoor, sal ons hom gerusstel. Ons sal sorg dat julle julle nie hoef te kwel nie.”

15. Die wagte het toe die geld gevat en gedoen soos aan hulle voorgesê is. Hierdie storie is toe onder die Jode versprei en word oorvertel tot vandag toe.

16. Die elf dissipels het toe na Galilea gegaan, na die berg soos Jesus hulle beveel het.

17. Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, alhoewel party van hulle nog getwyfel het.

Lees volledige hoofstuk Matteus 28