Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 26:42-50 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

42. Weer het Hy van hulle af weggegaan en gebid: “My Vader! As hierdie beker nie van My kan weggaan sonder dat Ek dit moet drink nie, laat u wil dan uitgevoer word.”

43. Hy het toe teruggegaan en kry hulle weer aan die slaap. Hulle was so vaak dat hulle oë eenvoudig nie wou oopbly nie.

44. Hy het hulle toe daar gelos en weer weggegaan en dieselfde gebed vir die derde keer gebid.

45. Toe kom Hy na sy dissipels toe en sê: “Slaap en rus julle nog steeds? Die tyd het aangebreek! Ek, die Seun van die Mens, word nou oorgegee in die hande van slegte mense.

46. Staan op, ons moet gaan! Kyk, my verraaier is hier.”

47. Jesus was nog besig om te praat, toe kom Judas, een van die twaalf dissipels, al daar aan, en saam met hom ’n groot klomp mense gewapen met swaarde en knuppels. Hulle is gestuur deur die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk.

48. Sy verraaier het vir hulle ’n uitkenningsteken gegee en gesê: “Die een wat ek met ’n soen sal groet, dit is hý. Arresteer hom!”

49. Hy het toe direk na Jesus toe gekom en gesê: “Gegroet, Rabbi!” Toe soengroet hy Hom.

50. Jesus het vir hom gesê: “Vriend, gaan voort met dit waarvoor jy gekom het.” Die ander het toe nadergekom, Jesus gegryp en Hom gearresteer.

Lees volledige hoofstuk Matteus 26