Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 26:2-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. “Julle weet dat dit oor twee dae Paasfees is. Dan sal Ek, die Seun van die Mens, oorgegee word om gekruisig te word.”

3. Juis in daardie tyd het die priesterhoofde en die familiehoofde in die huis van Kajafas, die hoofpriester, vergader

4. en saam beraadslaag oor hoe hulle Jesus in die geheim kon vang en uit die weg ruim.

5. Hulle het egter saamgestem: “Nie in die openbaar terwyl die skares feesvier nie; anders kom daar ’n oproer onder die volk.”

6. Jesus was in Betanië in die huis van Simon die melaatse.

7. Terwyl Hy aan tafel was, kom daar ’n vrou na Hom toe met ’n albaste fles vol duur aromatiese olie en gooi dit op sy kop uit.

8. Toe die dissipels dit sien, het hulle hulle daaroor opgewerk. “Watter vermorsing,” het hulle onder mekaar gesê,

9. “sy kon dit vir ’n yslike bedrag verkoop en die geld vir die armes gegee het!”

10. Jesus het dit egter agtergekom en vra hulle toe: “Waarom maak julle dit so moeilik vir hierdie vrou? Sy het immers ’n weldaad aan My gedoen.

11. Die armes sal julle altyd by julle hê, maar Ek sal nie meer lank by julle wees nie.

12. Toe sy hierdie olie op My uitgegooi het, het sy eintlik my liggaam vir my begrafnis voorberei.

13. Ek verseker julle, waar hierdie Goeie Nuus ook al oor die hele wêreld verkondig sal word, sal daar ook gepraat word van wat sy gedoen het, en so sal sy vir altyd onthou word!”

14. Toe het Judas Iskariot, een van die twaalf dissipels, na die priesterhoofde toe gegaan

15. en gevra: “Wat is julle bereid om my te betaal as ek Jesus aan julle besorg?” Hulle het hom toe 30 silwer geldstukke aangebied.

16. Van toe af was hy op die uitkyk vir ’n geskikte geleentheid om Jesus aan hulle uit te lewer.

Lees volledige hoofstuk Matteus 26