Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 26:12-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. Toe sy hierdie olie op My uitgegooi het, het sy eintlik my liggaam vir my begrafnis voorberei.

13. Ek verseker julle, waar hierdie Goeie Nuus ook al oor die hele wêreld verkondig sal word, sal daar ook gepraat word van wat sy gedoen het, en so sal sy vir altyd onthou word!”

14. Toe het Judas Iskariot, een van die twaalf dissipels, na die priesterhoofde toe gegaan

15. en gevra: “Wat is julle bereid om my te betaal as ek Jesus aan julle besorg?” Hulle het hom toe 30 silwer geldstukke aangebied.

16. Van toe af was hy op die uitkyk vir ’n geskikte geleentheid om Jesus aan hulle uit te lewer.

17. Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood het die dissipels vir Jesus kom vra: “Waar wil U hê moet ons die paasmaaltyd vir U voorberei?”

18. Hy antwoord toe: “Gaan stad toe na so en so en sê vir hom: ‘Jesus die Leermeester sê: My tyd het gekom. Ek wil by jou die paasmaaltyd saam met my dissipels eet.’”

19. Die dissipels het toe gedoen soos Jesus hulle beveel het en die paasete voorberei.

20. Teen die aand was Jesus saam met die twaalf aan tafel.

21. Terwyl hulle besig was om te eet, het Hy gesê: “Ek verseker julle, een van julle gaan My uitlewer.”

22. Hulle was geweldig geskok en het Hom die een na die ander gevra: “Dit is tog seker nie ek nie, Here?”

23. Daarop het Jesus gesê: “Dit is die een wat sy hand hier saam met My in die skottel steek, wat My gaan uitlewer.

24. Ek, die Seun van die Mens, moet sterf soos daar van My geskryf staan, maar dit sal bitter swaar gaan met daardie man wat My uitlewer. Hy moes liewer nooit gebore gewees het nie!”

Lees volledige hoofstuk Matteus 26