Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 22:34-46 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

34. Toe die Fariseërs hoor dat Jesus met sy antwoord die Sadduseërs koudgesit het, het hulle bymekaargekom om ’n nuwe plan teen Hom te bedink.

35. Een van hulle, ’n deskundige op die wet, het Hom toe met die volgende vraag probeer vastrek:

36. “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?”

37. Jesus se antwoord was: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’

38. Dit is die eerste en belangrikste opdrag.

39. Die tweede, ewe belangrike opdrag is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’

40. Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee gebooie.”

41. Omring van Fariseërs het Jesus die volgende vraag aan hulle gestel:

42. “Wat is julle standpunt oor die Messias? Wie se seun is Hy?” Hulle antwoord Hom: “Dawid s’n.”

43. Waarop Jesus vra: “Hoe noem Dawid Hom dan ‘Here’, terwyl hy tog onder die inspirasie van die Gees praat? Hy sê:

44. ‘Die Here het vir my Here gesê:Sit aan my regterhandtotdat Ek jou vyande heeltemal aan jou onderwerp het.’

45. “As Dawid Hom ‘Here’ noem, hoe kan Hy terselfdertyd sy seun wees?”

46. Niemand kon Hom hierop antwoord nie. En daarna het niemand dit meer gewaag om nog verdere strikvrae aan Hom te stel nie.

Lees volledige hoofstuk Matteus 22