Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 18:9-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

9. En as jou oog jou laat sonde doen, pluk dit uit en gooi dit weg. Dit is vir jou beter om halfblind in die hemel in te gaan as om met twee oë en al in die hel se vuur gegooi te word.

10. “Maak seker dat julle nie op een van hierdie kleinstes neersien nie. Besef julle dat die engele in die hemel wat oor hulle waak, elke oomblik in die teenwoordigheid van my hemelse Vader verkeer?”

12. “As iemand 100 skape het en een van hulle raak weg, wat dink julle sal hy doen? Sal hy nie die 99 net daar tussen die rantjies los en die wegloop-een gaan soek nie?

13. En as hy hom wel kry, wil Ek julle verseker hy sal blyer wees oor daardie een as oor die 99 wat nie weggeraak het nie!

14. “Net so wil julle Vader in die hemel nie hê dat één van hierdie kleinstes verlore gaan nie.”

15. “As een van jou medegelowiges iets verkeerds teen jou gedoen het, gaan wys hom daarop. Maar hou dit tussen julle twee. As hy sy fout insien en erken, het jy hom teruggewen.

16. Maar as jy nie daarin slaag nie, neem nog een of twee saam met jou. So sal daar twee of drie getuies wees om te bevestig wat gesê word.

17. Maar as hy nog steeds weier om te luister, moet jy dit aan die gemeente gaan meedeel. As hy egter ook weier om na die gemeente te luister, moet hy vir jou wees soos ’n ongelowige of ’n tollenaar.

18. Dít verseker Ek julle: Watter dinge julle ook al op aarde bind, sal in die hemel gebind wees. En watter dinge julle ook op die aarde losmaak, sal in die hemel losgemaak wees.

19. “Boonop verseker Ek julle: As twee van julle hier op aarde saamstem oor enigiets wat julle van God wil vra, sal my hemelse Vader dit vir julle doen.

20. Waar twee of drie bymekaar is, is Ek immers ook saam met hulle daar.”

21. Daarop kom vra Petrus Hom: “Here, hoeveel maal moet ek ’n medegelowige vergewe wat iets verkeerds teen my gedoen het? Selfs tot sewe maal toe?”

22. “Nee,” verseker Jesus hom, “nie tot sewe maal toe nie, maar tot 70 maal sewe toe!

Lees volledige hoofstuk Matteus 18