Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 7:12-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

12. “So veroorsaak julle dat hy sy ouers heeltemal verwaarloos

13. en verbreek julle God se opdrag ten gunste van julle tradisie. Dit is maar net een voorbeeld. Daar is baie meer.”

14. Daarna roep Jesus die skare weer na Hom toe en sê: “Julle moet almal luister en probeer verstaan wat Ek nou gaan sê.

15. Wat van buite af in jou ingaan, kan jou nie onrein maak nie; wat uit jou uitgaan, dít is wat jou onrein maak.”

17. Toe het Jesus in ’n huis ingegaan om van die skare weg te kom. Daarna vra sy dissipels Hom uit na die bedoeling van sy stelling.

18. “Verstaan julle dit nie? Begryp julle nie dat wat ’n mens eet jou nie onrein kan maak nie?

19. Kos gaan nie na jou hart nie, maar na jou maag en gaan weer uit jou liggaam uit.” (Daarmee het Jesus gewys dat ’n mens enige soort kos mag eet.)

20. En toe voeg Hy by: “Wat uit ’n mens uitgaan, dít is wat jou onrein maak.

21. Want uit jou binneste, uit jou hart, kom slegte gedagtes, soos onsedelikheid, diefstal, moord,

22. huweliksontrou, gierigheid, slegte bedoelings, skelmstreke, ongedissiplineerdheid, jaloesie, vloekery, hoogmoed en dwaasheid.

23. Al hierdie slegte dinge kom van binne af. Dít is wat jou voor God onrein maak.”

24. Jesus het van Galilea noordwaarts vertrek na die omgewing van Tirus. Hy het Hom in ’n huis teruggetrek en wou dit stil hou, maar dit was onmoontlik.

25. Sommer gou het ’n vrou in wie se dogtertjie ’n onrein gees was, van Hom gehoor en voor sy voete kom neerval.

26. Sy was ’n Griekse vrou wat van Siro-Fenisië afkomstig was. Sy het Jesus aanhou smeek om die duiwel uit haar dogter te dryf.

Lees volledige hoofstuk Markus 7