Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 5:2-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

2. Net toe Jesus uit die skuit klim, het ’n man met ’n onrein gees Hom van die begraafplaas af tegemoetgehardloop.

3. Hy het tussen die grafte gebly. Hy kon op geen manier beheer word nie – selfs nie met ’n ketting nie.

4. Hy is dikwels met voet- en handboeie vasgemaak; dan het hy die handboeie oopgeforseer en die voetboeie uitmekaargeruk. Gevolglik kon net mooi niemand hom beheer nie.

5. Die hele tyd, dag en nag, was hy tussen die grafte en op die hoogtes aan die skree terwyl hy homself met klippe stukkend kap.

6. Hy het Jesus van ver af raakgesien. Toe hardloop hy nader en val voor Hom neer.

7. Hy het met ’n harde stem geskreeu: “Los my uit, Jesus, Seun van God die Allerhoogste! In Godsnaam, moenie my seermaak nie!”

8. (Die rede hiervoor was dat Jesus alreeds vir hom gesê het: “Onrein gees, gaan uit die man uit!”)

9. Toe vra Jesus hom: “Wat is jou naam?”“My naam is Legio,” antwoord hy, “want ons is baie.”

10. Daarna het die onrein geeste Jesus gesmeek om hulle nie heeltemal landuit te stuur nie.

11. Teen die heuwel was daar ’n groot trop varke aan die wei.

12. Die onrein geeste smeek Hom toe: “Stuur ons in die varke in. Laat ons in hulle invaar.”

13. Jesus het hulle dit toegelaat. Die onrein geeste het uit die man gegaan en in die varke in. Die trop van omtrent 2 000 hardloop toe teen die skuinste af die see in, waar hulle versuip het.

14. Hulle wagters het weggehardloop en die nuus in die dorp en op die plase gaan vertel. Daarop het die mense gekom om self te sien wat gebeur het.

15. Toe hulle by Jesus kom en die man wat die menigte bose geeste gehad het daar sien sit, behoorlik aangetrek en by sy volle positiewe, was hulle verskrik.

16. Die mense wat dit gesien het, vertel toe vir hulle wat met die besetene en die varke gebeur het.

Lees volledige hoofstuk Markus 5