Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 14:27-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

27. Jesus sê toe vir hulle: “Julle gaan almal julle rug op My draai. Daar staan immers geskryf:‘Ek sal die skaapwagter doodmaak,en die skape sal uitmekaargejaag word.’

28. “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek vooruit na Galilea toe gaan en daar vir julle wag.”

29. Petrus verseker Hom toe: “Al draai almal hulle rug op U – ék sal dit nie doen nie!”

30. Jesus antwoord hom: “Glo My, Petrus, vannag nog, voor die tweede kraai van die haan, sal jy drie keer ontken dat jy my dissipel is.”

31. Maar Petrus het heftig aanhou sê: “Al moet ek saam met U sterf – ek sal U beslis nooit verloën nie!” En almal van hulle het dit beaam.

32. Hulle kom toe by ’n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit julle hier terwyl Ek gaan bid.”

33. Daarop neem Hy Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom. Toe pak ’n geweldige ontsteltenis en benoudheid Hom

34. en Hy sê vir hulle: “Ek is benoud tot sterwens toe! Bly hier en waak!”

35. Hy het toe ’n entjie verder gegaan en op die grond neergeval en gebid dat, as dit moontlik was, die verskriklike uur wat aan die kom was, by Hom sou verbygaan.

36. “Abba”– dit beteken Vader – het Hy gebid, “vir U is alles moontlik. Neem tog hierdie beker van lyding van My weg. Maar doen nogtans nie wat Ék wil nie, maar wat Ú wil.”

37. Hy kom toe terug by die dissipels en kry hulle aan die slaap. Hy sê vir Petrus: “Simon, slaap jy werklikwaar? Kon jy nie een uur waak nie?

38. Wees waaksaam en bid. Anders sal die versoeking vir julle te sterk word. ’n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie.”

39. Hy het toe weer weggegaan en dieselfde gebed gebid.

40. Toe Hy weer terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want hulle was so vaak dat hulle hulle oë net nie kon oophou nie. Hulle was te verleë om Hom te antwoord.

Lees volledige hoofstuk Markus 14