Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 14:21-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

21. Ek, die Seun van die Mens, moet inderdaad sterf soos daar van My geskryf staan, maar dit sal bitter swaar gaan met die man wat My uitlewer. Hy moes liewer nooit gebore gewees het nie!”

22. Terwyl hulle besig was om te eet, het Jesus brood geneem en God se seën daarop gevra. Toe breek Hy dit in stukke en gee dit aan sy dissipels met die woorde: “Neem en eet dit. Dit is my liggaam.”

23. Hy het ook die beker geneem en God daarvoor gedank. Hy het dit aan hulle gegee en hulle het almal daaruit gedrink.

24. Hy sê toe vir hulle: “Dit is my bloed wat die verbond tussen God en sy volk verseël. Dit word vir baie vergiet.

25. Ek verklaar nou hier plegtig dat Ek nie weer wyn sal drink nie tot op daardie dag wanneer Ek opnuut die feeswyn sal drink in die koninkryk van God.”

26. Hulle het toe die loflied gesing en uitgegaan na die Olyfberg toe.

27. Jesus sê toe vir hulle: “Julle gaan almal julle rug op My draai. Daar staan immers geskryf:‘Ek sal die skaapwagter doodmaak,en die skape sal uitmekaargejaag word.’

28. “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek vooruit na Galilea toe gaan en daar vir julle wag.”

29. Petrus verseker Hom toe: “Al draai almal hulle rug op U – ék sal dit nie doen nie!”

30. Jesus antwoord hom: “Glo My, Petrus, vannag nog, voor die tweede kraai van die haan, sal jy drie keer ontken dat jy my dissipel is.”

31. Maar Petrus het heftig aanhou sê: “Al moet ek saam met U sterf – ek sal U beslis nooit verloën nie!” En almal van hulle het dit beaam.

32. Hulle kom toe by ’n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit julle hier terwyl Ek gaan bid.”

33. Daarop neem Hy Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom. Toe pak ’n geweldige ontsteltenis en benoudheid Hom

34. en Hy sê vir hulle: “Ek is benoud tot sterwens toe! Bly hier en waak!”

Lees volledige hoofstuk Markus 14