Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 13:8-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Nasies en koninkryke sal teen mekaar oorlog verklaar. Daar sal wydverspreide aardbewings wees; daar sal hongersnood wees. Hierdie dinge sal nog maar net die begin van die swaarkry wees.

9. “Wees op julle hoede! Hulle sal julle aan die howe uitlewer. Julle sal in die sinagoges geslaan word. En julle sal voor goewerneurs en konings verskyn omdat julle my volgelinge is. Dit sal vir julle ’n geleentheid wees om voor hulle van My te getuig.

10. Ja, die Goeie Nuus moet eers verkondig word aan al die nasies.

11. Maar wanneer hulle julle voor die owerhede bring, moet julle julle nie bekommer oor wat julle ter verdediging sal sê nie. Sê maar net wat God in daardie uur vir julle sal gee om te sê. Julle sal wel die woorde uitspreek, maar eintlik is dit die Heilige Gees wat deur julle praat.

12. “Die een broer sal die ander een oorgee om doodgemaak te word en ’n pa sy kind. Kinders sal teen hulle ouers optree en so hulle dood veroorsaak.

13. Julle sal deur almal gehaat word omdat julle mý mense is. Maar elkeen wat enduit volhard, sal verlos word.

14. “Die tyd kom wanneer julle die afskuwelike voorwerp wat verontheiliging veroorsaak op ’n ontoelaatbare plek sal sien staan” – my leser, gee nou spesiale aandag! – “dan moet die mense van Judea na die heuwels toe vlug.

15. As jy op jou dakstoep sit, moet jy nie eers ondertoe gaan en in jou huis gaan om in te pak nie.

16. As jy buite op die land is, moet jy nie eers omdraai om jou bo-kleed te gryp nie.

17. Hoe erg sal dit nie in daardie tyd wees vir vroue wat verwag of wat nog hulle kinders laat drink nie!

Lees volledige hoofstuk Markus 13