Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 13:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Terwyl Jesus van die tempel af weggaan, sê een van sy dissipels vir Hom: “Leermeester, kyk net na hierdie massiewe klippe in die mure! En die ontsaglike geboue!”

2. Daarop het Jesus hom geantwoord: “Hierdie groot geboue wat jy sien, sal so volledig tot op die grond afgebreek word dat daar nie een klip op die ander sal oorbly nie.”

3. Later, toe Jesus teen die hang van die Olyfberg regoor die tempel sit, vra Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas Hom vertroulik:

4. “Wanneer sal hierdie dinge gebeur? En watter teken sal daar wees om vir ons te waarsku dat hierdie dinge vervul sal word?”

5. Jesus het geantwoord: “Wees versigtig dat niemand julle op ’n dwaalspoor bring nie.

6. Baie mense sal in my Naam met die aanspraak kom: ‘Ek is die Messias,’ en hulle sal baie op ’n dwaalspoor bring.

7. Wanneer julle van oorloë hoor, hier naby en daar ver, moenie paniekerig word nie. Hierdie dinge is bestem om te gebeur, maar die einde sal nog nie dadelik daarna kom nie.

8. Nasies en koninkryke sal teen mekaar oorlog verklaar. Daar sal wydverspreide aardbewings wees; daar sal hongersnood wees. Hierdie dinge sal nog maar net die begin van die swaarkry wees.

9. “Wees op julle hoede! Hulle sal julle aan die howe uitlewer. Julle sal in die sinagoges geslaan word. En julle sal voor goewerneurs en konings verskyn omdat julle my volgelinge is. Dit sal vir julle ’n geleentheid wees om voor hulle van My te getuig.

10. Ja, die Goeie Nuus moet eers verkondig word aan al die nasies.

11. Maar wanneer hulle julle voor die owerhede bring, moet julle julle nie bekommer oor wat julle ter verdediging sal sê nie. Sê maar net wat God in daardie uur vir julle sal gee om te sê. Julle sal wel die woorde uitspreek, maar eintlik is dit die Heilige Gees wat deur julle praat.

12. “Die een broer sal die ander een oorgee om doodgemaak te word en ’n pa sy kind. Kinders sal teen hulle ouers optree en so hulle dood veroorsaak.

13. Julle sal deur almal gehaat word omdat julle mý mense is. Maar elkeen wat enduit volhard, sal verlos word.

14. “Die tyd kom wanneer julle die afskuwelike voorwerp wat verontheiliging veroorsaak op ’n ontoelaatbare plek sal sien staan” – my leser, gee nou spesiale aandag! – “dan moet die mense van Judea na die heuwels toe vlug.

Lees volledige hoofstuk Markus 13