Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:8-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Ander het gesê: “Dit is Elia of een van die vroeëre profete wat uit die dood opgestaan het.”

9. “Vir Johannes het ek laat onthoof,” het Herodes gesê. “Maar wie is hierdie man van wie ek sulke vreemde dinge hoor?” En hy het Hom te sien probeer kry.

10. Toe die apostels terugkom, het hulle vir Jesus alles vertel wat hulle gedoen het. Toe is Hy stilletjies saam met hulle na die dorp Betsaida.

11. Maar die skare het uitgevind waarheen Hy op pad was en Hom gevolg. Hy het hulle verwelkom en hulle onderrig oor die koningsheerskappy van God, en dié wat siek was, gesond gemaak.

12. Laatmiddag het die twaalf apostels na Hom gekom en gesê: “Stuur die mense na die omliggende dorpe en plase om daar kos en verblyf vir die nag te kry. Hier is niks te eet in hierdie verlate plek nie.”

13. Maar Jesus sê: “Gee júlle vir hulle kos.” “Dis onmoontlik!” het hulle beswaar gemaak. “Ons het net vyf brode en twee visse. Of verwag U dat ons genoeg kos moet gaan koop vir hierdie hele skare?”

14. Want daar was omtrent 5 000 mans bymekaar.“Sê net hulle moet op die grond gaan sit in groepe van omtrent 50 elk,” het Jesus geantwoord.

15. Toe het al die mense gaan sit.

16. Jesus het die vyf brode en twee visse geneem, opgekyk na die hemel, en God se seën daarop gevra. Hy het toe aangehou om die brood in stukke te breek en dit saam met die vis aan sy dissipels gegee om aan die mense te gee.

17. Almal het soveel geëet as wat hulle wou en hulle het twaalf mandjies vol oorskiet opgetel.

18. Eendag ná Jesus alleen in gebed was, het Hy na sy dissipels gekom en gevra: “Wie sê die mense is Ek?”

19. “Wel,” het hulle geantwoord, “sommige sê Johannes die Doper, sommige sê Elia, en ander sê U is een van die vroeëre profete wat uit die dood opgestaan het.”

20. Toe vra Hy vir hulle: “Wie, sê julle, is Ek?” Petrus het geantwoord: “U is die Messias wat deur God gestuur is!”

21. Jesus het hulle gewaarsku om dit vir niemand te vertel nie.

Lees volledige hoofstuk Lukas 9