Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 4:26-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

26. Tog is Elia nie na enige van hulle gestuur nie, maar wel na ’n weduwee in Sarfat – ’n vreemdeling in die gebied van Sidon.

27. Of dink aan die profeet Elisa wat Naäman die Siriër genees het, eerder as die baie mense in Israel wat aan ernstige velsiektes gely het.”

28. Toe die mense in die sinagoge dít hoor, was hulle woedend.

29. Hulle het opgespring, Hom omsingel en Hom uit die dorp geneem tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was. Hulle wou Hom oor die krans stoot,

30. maar Hy het tussen die skare deurgeglip en weggegaan.

31. Jesus is toe na Kapernaum, ’n dorp in Galilea, en het die mense elke Sabbatdag daar in die sinagoge geleer.

32. Die mense daar was ook verbaas oor die dinge wat Hy gesê het, want Hy het met gesag gepraat.

33. Op ’n dag toe Hy in die sinagoge was, het ’n man in wie daar die gees van ’n onrein demoon was, begin skree:

34. “Gaan weg! Waarom pla jy ons, Jesus van Nasaret? Het jy gekom om ons te vernietig? Ek weet wie jy is: Die Heilige wat deur God gestuur is!”

35. Jesus het hom kortgevat. “Bly stil!” het Hy vir die duiwel gesê. “Kom uit die man uit!” Die duiwel het die man daar voor almal op die vloer gegooi; toe het die duiwel uit hom gegaan sonder om hom verder seer te maak.

36. Die mense het verbaas uitgeroep: “Watter gesag en mag het hierdie man se woorde nie! Selfs bose geeste gehoorsaam hom en vlug op sy bevel!”

37. Die berig oor wat Jesus gedoen het, het soos ’n veldbrand deur die hele streek versprei.

38. Nadat Hy die sinagoge verlaat het, is Jesus na Simon se huis waar Simon se skoonma baie siek met ’n hoë koors was. “Maak haar asseblief gesond,” het almal gesmeek.

39. Hy het by haar bed gaan staan, die koors bestraf, en sy het dadelik gesond geword. Sy het onmiddellik opgestaan en ’n maaltyd vir hulle voorberei.

Lees volledige hoofstuk Lukas 4