Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 22:50-59 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

50. Een uit hulle geledere het toe na die slaaf van die hoofpriester gekap en sy regteroor afgekap.

51. Maar Jesus het gereageer: “Hou dadelik op hiermee!” Daarna het Hy die oor aangeraak en dit gesond gemaak.

52. Jesus het toe aan die priesterhoofde en die bevelvoerders van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom aangetree het, gesê: “Het julle opgetrek met swaarde en knuppels soos teen ’n rower?

53. Ek was daagliks saam met julle in die tempel, en tog het julle My nie gearresteer nie. Maar hierdie is nou júlle tyd, die tyd van die mag van die duisternis.”

54. Nadat hulle Jesus gearresteer het, het hulle Hom weggelei en in die huis van die hoofpriester ingebring. Petrus het op ’n afstand gevolg.

55. In die middel van die binnehof was daar ’n vuur wat knetterend gebrand het, met mense wat daar rondom sit. Petrus het tussen hulle gaan sit.

56. ’n Diensmeisie het hom raakgesien waar hy sigbaar in die vlammegloed gesit het. Nadat sy hom goed bekyk het, sê sy: “Hý was ook saam met daardie man.”

57. Petrus het dit egter heftig ontken: “Vrou, ek ken Hom glad nie!”

58. ’n Rukkie later merk iemand anders hom op en sê: “Hy is mos ook uit hulle geledere.”Petrus se reaksie was: “Man, ek is beslis nie!”

59. Ná ’n tussenpose van ongeveer ’n uur het ’n ander persoon ferm bevestig: “Hierdie man was vir seker saam met hom. Hy is tog ook ’n Galileër.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 22