Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 22:11-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. en sê vir die eienaar van die huis: ‘Die Leermeester vra jou: Waar is die gastekamer waar Ek saam met my dissipels die paasmaaltyd kan eet?’

12. Daardie man sal julle ’n groot bovertrek wys wat gereedgemaak is. Daar moet julle dit voorberei.”

13. Hulle het vertrek en dit net so aangetref soos Jesus vir hulle gesê het en die paasete gereed gekry.

14. Toe die tyd aangebreek het, het Jesus vir die ete aangesit en die apostels saam met Hom.

15. Hy sê toe vir hulle: “Ek het geweldig daarna uitgesien om hierdie paasete saam met julle te eet voordat Ek ly.

16. Want Ek sê vir julle, Ek sal dit beslis nie weer eet voordat dit binne die koninkryk van God sy volle vervulling gekry het nie.”

17. Daarna het Jesus ’n beker geneem en ’n dankgebed uitgespreek. Vervolgens sê Hy: “Neem dit en deel dit onder mekaar.

18. Want Ek sê vir julle, Ek sal beslis van nou af nie weer van die vrug van die druiwestok drink voordat die koninkryk van God ten volle gekom het nie.”

19. Jesus het ook brood geneem, ’n dankgebed uitgespreek, dit in stukke gebreek en vir hulle gegee terwyl Hy sê: “Dit is my liggaam wat ter wille van julle gegee word. Gebruik dit ter herinnering aan My.”

20. Hy het dieselfde gedoen met die beker ná die ete en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, bevestig deur my bloed, wat ter wille van julle uitgegiet word.

21. “Maar kyk, die man wat My uitlewer, is hier saam met My aan die tafel.

22. Met die Seun van die Mens sal dit inderdaad gaan volgens die beskikking van God, maar groot ellende wag op hom deur wie Hy uitgelewer word!”

23. Toe het die dissipels mekaar begin uitvra wie van hulle dit tog kon wees wat só iets sou doen.

24. Daar het toe ’n wedywering onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word.

Lees volledige hoofstuk Lukas 22