Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 18:8-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

8. Ek sê vir julle: Hy sal aan hulle reg laat geskied, en baie gou ook! Nietemin, sal Ek, die Seun van die Mens, wanneer Ek kom, geloof op aarde vind?”

9. Toe het Jesus hierdie gelykenis vertel met die oog op sommige mense wat oortuig is dat hulle saak voor God reg is, maar die ander mense verag het:

10. “Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ’n Fariseër en die ander ’n tollenaar.

11. Die Fariseër het gaan staan en by homself gebid: ‘O God, ek is dankbaar teenoor U dat ek nie soos die ander mense is nie – diewe, onregverdiges, ontugtiges of ook soos hierdie tollenaar.

12. Ek vas twee keer gedurende die week, en ek gee ’n tiende van alles wat ek verdien!’

13. “Die tollenaar het op ’n afstand bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het vol skuldbesef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig!’

14. “Ek sê vir julle: Hierdie man, eerder as die eerste een, gaan huis toe as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat homself verhef bo ander, sal verneder word, maar hy wat homself nederig ag, sal verhoog word.”

15. Die mense het hulle kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy hulle kon aanraak. Die dissipels het gesien wat aangaan, en die mense voor stok gekry.

16. Jesus het egter die kindertjies nadergeroep en gesê: “Laat die kindertjies toe om na My toe te kom, en moet hulle nie keer nie, want dit is sulke mense wat deel het aan die koninkryk van God.

17. Ek verseker julle, wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie aanvaar nie, sal nooit daar ingaan nie.”

18. Iemand uit die geledere van die geestelike leiers het aan Jesus gevra: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?”

Lees volledige hoofstuk Lukas 18