Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 17:4-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

4. Ook as hy sewe keer op ’n dag teenoor jou oortree, maar ook sewe keer na jou toe kom en sê: ‘Ek is jammer,’ moet jy hom vergewe.”

5. Die apostels het toe vir die Here gesê: “Help ons. Ons het meer geloof nodig.”

6. Die Here het gereageer: “Al sou julle maar net ’n geloof só klein soos ’n mosterdsaadjie gehad het, sou julle aan hierdie moerbeiboom gesê het: ‘Ontwortel jouself en gaan verplant jou in die see’ – hy sou julle gehoorsaam!

7. “As een van julle ’n slaaf het wat besig is om te ploeg of om diere te versorg, sal hy aan hom, wanneer hy van die land af kom, sê: ‘Kom eet gou saam’?

8. Nooit nie! Hy sal aan hom sê: ‘Maak iets gaar vir aandete. Bind jou klere vas en bedien my terwyl ek eet en drink. Eers daarna gaan jy self eet en drink.’

9. ’n Slaaf wat sy opdragte uitgevoer het, ontvang mos nie dank nie!

10. Net só is dit ook die geval met julle: As julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: ‘Ons is net nikswerd slawe. Ons het bloot uitgevoer wat ons moes doen.’”

11. Dit het gebeur terwyl Jesus deur die grensgebied tussen Samaria en Galilea op reis was na Jerusalem toe.

12. Toe Hy aan die buitewyke van ’n sekere dorpie kom, het tien mans met ernstige velsiektes Hom tegemoetgekom, maar op ’n afstand bly staan.

13. Hulle het hard na Hom geroep: “Jesus, Meneer, ontferm u tog oor ons!”

14. Toe Hy hulle sien, sê Hy aan hulle: “Gaan wys julleself aan die priesters.” Terwyl hulle soontoe op pad was, het hulle gesond geword.

15. Een uit die groep, toe hy sien dat hy gesond geword het, het omgedraai en met ’n harde stem vir God geloof.

16. Hy het op sy gesig aan Jesus se voete neergeval en Hom gedank. Hierdie persoon was ’n Samaritaan.

17. Toe merk Jesus op: “Was daar dan nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege?

18. Is daar niemand anders wat omgedraai het om God te loof behalwe hierdie vreemdeling nie?”

19. Aan hierdie man het Hy gesê: “Staan op, gaan. Jou geloof het jou gered.”

20. Toe Jesus deur die Fariseërs uitgevra is oor wanneer die koningsheerskappy van God dan begin, het Hy hulle geantwoord: “Die koningsheerskappy van God begin nie met sigbare voor-tekens nie.

21. Hulle sal nie sê: ‘Kyk, hier is dit!’ of: ‘Daar is dit!’ nie, want die koningsheerskappy van God is hier by julle.”

22. Jesus het aan sy dissipels gesê: “Daar sal ’n tyd aanbreek wanneer julle sal begeer om tog net één van die dae van die Seun van die Mens te sien, maar julle sal dit nie sien nie.

23. Hulle sal egter aan julle sê: ‘Kyk, daar is Hy!’ of: ‘Kyk, hier is Hy!’ Moenie gaan nie, en moenie agter hulle aanloop nie.

24. Soos ’n weerligstraal flits en die hemel van die een kant na die ander kant verlig, só sal Ek, die Seun van die Mens, op daardie dag van My verskyn.

Lees volledige hoofstuk Lukas 17