Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 17:11-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

11. Dit het gebeur terwyl Jesus deur die grensgebied tussen Samaria en Galilea op reis was na Jerusalem toe.

12. Toe Hy aan die buitewyke van ’n sekere dorpie kom, het tien mans met ernstige velsiektes Hom tegemoetgekom, maar op ’n afstand bly staan.

13. Hulle het hard na Hom geroep: “Jesus, Meneer, ontferm u tog oor ons!”

14. Toe Hy hulle sien, sê Hy aan hulle: “Gaan wys julleself aan die priesters.” Terwyl hulle soontoe op pad was, het hulle gesond geword.

15. Een uit die groep, toe hy sien dat hy gesond geword het, het omgedraai en met ’n harde stem vir God geloof.

16. Hy het op sy gesig aan Jesus se voete neergeval en Hom gedank. Hierdie persoon was ’n Samaritaan.

17. Toe merk Jesus op: “Was daar dan nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege?

18. Is daar niemand anders wat omgedraai het om God te loof behalwe hierdie vreemdeling nie?”

19. Aan hierdie man het Hy gesê: “Staan op, gaan. Jou geloof het jou gered.”

20. Toe Jesus deur die Fariseërs uitgevra is oor wanneer die koningsheerskappy van God dan begin, het Hy hulle geantwoord: “Die koningsheerskappy van God begin nie met sigbare voor-tekens nie.

21. Hulle sal nie sê: ‘Kyk, hier is dit!’ of: ‘Daar is dit!’ nie, want die koningsheerskappy van God is hier by julle.”

22. Jesus het aan sy dissipels gesê: “Daar sal ’n tyd aanbreek wanneer julle sal begeer om tog net één van die dae van die Seun van die Mens te sien, maar julle sal dit nie sien nie.

23. Hulle sal egter aan julle sê: ‘Kyk, daar is Hy!’ of: ‘Kyk, hier is Hy!’ Moenie gaan nie, en moenie agter hulle aanloop nie.

24. Soos ’n weerligstraal flits en die hemel van die een kant na die ander kant verlig, só sal Ek, die Seun van die Mens, op daardie dag van My verskyn.

25. Eers moet Ek egter baie lyding verduur en deur die mense van hierdie geslag verwerp word.

Lees volledige hoofstuk Lukas 17