Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 12:20-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

20. “Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas! Vannag nog sal jy sterf. En alles wat jy bymekaargemaak het, wie sal dit kry?’

21. “Ja, ’n mens is ’n dwaas as jy net aardse rykdom versamel, maar nie ’n ryk verhouding met God het nie.”

22. Jesus sê toe vir sy dissipels: “Daarom sê Ek vir julle, moenie julle oor die alledaagse lewe bekommer – of julle genoeg kos het om te eet of klere om te dra nie.

23. Want die lewe bestaan uit veel meer as kos en die liggaam is veel meer as klere.

24. Kyk na die kraaie. Hulle saai en oes nie, hulle het geen spens of skuur waarin hulle voorrade bêre nie, en tog sorg God vir hulle. En julle is baie waardevoller vir Hom as enige voëls!

25. Kan al julle bekommernisse ’n enkele sekonde tot julle lewe toevoeg? Natuurlik nie!

26. En as kommer nie eers sulke klein dingetjies kan regkry nie, wat is die nut van kommer oor groter dinge?

27. “Kyk na die lelies en hoe hulle groei. Hulle werk nie en maak nie klere nie, en selfs Salomo in al sy prag was nie so mooi geklee soos hulle nie.

28. As God só wonderlik sorg vir die blomme wat vandag hier is en môre weg is, hoeveel te meer sal Hy nie vir julle sorg nie? Julle het so min geloof!

Lees volledige hoofstuk Lukas 12