Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 12:10-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

10. Nietemin sal dié wat iets teen My, die Seun van die Mens, sê, vergewe word, maar enigeen wat teen die Heilige Gees laster, sal nooit vergewe word nie.

11. “En wanneer julle in die sinagoges en voor heersers en owerhede verhoor word, moenie julle bekommer oor wat julle ter verdediging sal sê nie,

12. want die Heilige Gees sal julle leer wat nodig is om te sê terwyl julle daar staan.”

13. Toe het iemand uit die skare geroep: “Leermeester, sê asseblief vir my broer om ons pa se boedel met my te deel.”

14. Jesus het geantwoord: “Vriend, wie het My as regter oor julle aangestel om oor sulke dinge te besluit?”

15. Toe het Hy gesê: “Pas op! Moenie gierig wees nie. Ware lewe word nie gemeet aan hoeveel ons besit nie.”

16. Toe vertel Hy ’n gelykenis: “’n Ryk man het ’n vrugbare plaas besit wat goeie oeste opgelewer het.

17. Hy het toe by homself gewonder: ‘Wat moet ek doen? Ek het nie meer stoorplek vir die oes oor nie.’

18. Hy het toe gesê: ‘Ek weet! Ek sal my skure afbreek en groter skure bou. Dan sal ek genoeg plek hê om alles te berg.

19. En ek sal terugsit en vir myself sê: Jou gelukkige kêrel! Jy het genoeg gebêre vir die jare wat voorlê. Ontspan nou! Eet, drink en wees vrolik!’

20. “Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas! Vannag nog sal jy sterf. En alles wat jy bymekaargemaak het, wie sal dit kry?’

21. “Ja, ’n mens is ’n dwaas as jy net aardse rykdom versamel, maar nie ’n ryk verhouding met God het nie.”

22. Jesus sê toe vir sy dissipels: “Daarom sê Ek vir julle, moenie julle oor die alledaagse lewe bekommer – of julle genoeg kos het om te eet of klere om te dra nie.

23. Want die lewe bestaan uit veel meer as kos en die liggaam is veel meer as klere.

24. Kyk na die kraaie. Hulle saai en oes nie, hulle het geen spens of skuur waarin hulle voorrade bêre nie, en tog sorg God vir hulle. En julle is baie waardevoller vir Hom as enige voëls!

25. Kan al julle bekommernisse ’n enkele sekonde tot julle lewe toevoeg? Natuurlik nie!

Lees volledige hoofstuk Lukas 12