Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 1:32-49 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

32. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee.

33. Hy sal vir ewig oor Israel regeer; en sy koningsheerskappy sal nooit eindig nie!”

34. Maria het vir die engel gevra: “Maar hoe kan ek ’n kind hê? Ek was nog nooit by ’n man nie.”

35. Die engel het geantwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou toevou. Daarom sal die kind wat gebore word, heilig en die Seun van God genoem word.

36. Meer nog, jou familielid Elisabet het in haar gevorderde ouderdom swanger geword! Mense het altyd gesê sy is onvrugbaar, maar sy is al in haar sesde maand,

37. want niks is onmoontlik vir God nie.”

38. Maria het geantwoord: “Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar wat Hy ook al wil hê. Mag alles wat jy gesê het, waar word.” Toe het die engel weggegaan.

39. ’n Paar dae later het Maria haastig na die heuwelland van Judea vertrek, na die dorp waar Sagaria gewoon het.

40. Sy is die huis in en het vir Elisabet gegroet.

41. Met die geluid van Maria se groet, het die kindjie in Elisabet se skoot beweeg en Elisabet is met die Heilige Gees vervul.

42. Sy het met ’n harde stem teenoor Maria uitgeroep: “Jy is bo alle ander vroue deur God geseën, en jou kind is geseënd.

43. Wat ’n eer is dit dat die ma van my Here my besoek!

44. Toe jy ingekom en my gegroet het, het my kindjie van vreugde beweeg die oomblik toe ek jou stem hoor!

45. Jy is geseënd omdat jy vertrou het dat die Here sal doen wat Hy gesê het.”

46. Maria het geantwoord:“Ek prys die Here.

47. Ek juig in God my Verlosser!

48. Want Hy het omgesienna sy nederige diensmeisie,en nou sal geslag na geslagmy geseënd noem.

49. Want Hy, die magtige Een,het groot dinge vir my gedoen.Heilig is sy Naam!

Lees volledige hoofstuk Lukas 1