Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 1:30-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

30. “Moenie bang wees nie, Maria,” het die engel gesê, “want God het besluit om jou te seën!

31. Jy sal swanger word en ’n seun hê en jy moet Hom Jesus noem.

32. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee.

33. Hy sal vir ewig oor Israel regeer; en sy koningsheerskappy sal nooit eindig nie!”

34. Maria het vir die engel gevra: “Maar hoe kan ek ’n kind hê? Ek was nog nooit by ’n man nie.”

35. Die engel het geantwoord: “Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou toevou. Daarom sal die kind wat gebore word, heilig en die Seun van God genoem word.

36. Meer nog, jou familielid Elisabet het in haar gevorderde ouderdom swanger geword! Mense het altyd gesê sy is onvrugbaar, maar sy is al in haar sesde maand,

37. want niks is onmoontlik vir God nie.”

38. Maria het geantwoord: “Ek is die Here se dienares en gewillig om te aanvaar wat Hy ook al wil hê. Mag alles wat jy gesê het, waar word.” Toe het die engel weggegaan.

39. ’n Paar dae later het Maria haastig na die heuwelland van Judea vertrek, na die dorp waar Sagaria gewoon het.

Lees volledige hoofstuk Lukas 1