Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 8:46-59 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

46. Wie onder julle kan My aankla van sonde? As Ek dan die waarheid praat, waarom glo julle My nie?

47. Wie van God afkomstig is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie omdat julle nie van God afkomstig is nie.”

48. Die Jode het teruggekap: “Het ons nie tereg gesê dat jy ’n Samaritaan en in die mag van ’n bose gees is nie?”

49. Jesus het geantwoord: “Ek het nie ’n bose gees nie, en Ek eer my Vader, maar julle onteer My.

50. Ek soek nie my eie eer nie; daar is Iemand wat my eer soek. Laat Hý hieroor beslis.

51. Ek verseker julle, as iemand my boodskap gehoorsaam, sal hy so nimmer as te nooit sterf nie.”

52. Die Jode se reaksie was: “Nou weet ons verseker dat jy in die mag van ’n bose gees is. Abraham en die profete het reeds gesterf; nietemin sê jy: ‘As iemand my boodskap gehoorsaam, sal hy so nimmer as te nooit sterf nie.’

53. Jy is tog nie groter as ons vader Abraham wat reeds gesterf het nie? En die profete is ook reeds dood. As wie bied jy jouself aan?”

54. Jesus het geantwoord: “As Ek Myself verheerlik, is my heerlikheid niks werd nie. Dit is my Vader wat My verheerlik, oor Wie julle sê: ‘Hy is ons God,’

55. maar julle ken Hom nie. Ek ken Hom. As Ek sê: ‘Ek ken Hom nie,’ sal Ek net soos julle ’n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom en Ek gehoorsaam sy woorde.

56. Abraham, julle voorvader, het met uitbundige blydskap uitgesien na my dag; en hy het dit gesien en was verheug.”

57. Die Jode het toe reageer: “Jy is nog nie eers 50 jaar oud nie en jy het Abraham gesien?”

58. Jesus het vir hulle gesê: “Ek verseker julle, nog voordat Abraham bestaan het, was Ek al wat Ek is.”

59. Hulle het toe klippe opgetel om Hom daarmee dood te gooi. Jesus het hulle egter ontwyk en uit die tempelgebied padgegee.

Lees volledige hoofstuk Johannes 8