Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 8:40-57 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

40. En nou wil julle My doodmaak – die Een wat die waarheid wat Ek by God gehoor het, aan julle kom meedeel. Dít is nie wat Abraham gedoen het nie.

41. Julle doen net wat júlle pa gedoen het.”Hulle sê toe vir Hom: “Ons is nie uit owerspel gebore nie. Ons het net een Vader, en dit is God.”

42. Jesus het geantwoord: “As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het van God af gekom en is nou hier. Ek het beslis ook nie uit my eie hierheen gekom nie, maar Hy het My gestuur.

43. Waarom verstaan julle nie my boodskap nie? Omdat julle nie kan luister na my boodskap nie.

44. Julle is uit die duiwel as julle pa gebore, en julle wil net doen wat hy as pa van julle verwag. Hy was van die heel begin af ’n mensemoordenaar. En hy is nie in die waarheid nie omdat die waarheid nie in hom is nie. Wanneer hy ook al leuens verkoop, praat hy volgens sy innerlike oortuiging omdat hy ’n leuenaar en ook die vader daarvan is.

45. Omdat Ek die waarheid praat, glo julle My nie.

46. Wie onder julle kan My aankla van sonde? As Ek dan die waarheid praat, waarom glo julle My nie?

47. Wie van God afkomstig is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie omdat julle nie van God afkomstig is nie.”

48. Die Jode het teruggekap: “Het ons nie tereg gesê dat jy ’n Samaritaan en in die mag van ’n bose gees is nie?”

49. Jesus het geantwoord: “Ek het nie ’n bose gees nie, en Ek eer my Vader, maar julle onteer My.

50. Ek soek nie my eie eer nie; daar is Iemand wat my eer soek. Laat Hý hieroor beslis.

51. Ek verseker julle, as iemand my boodskap gehoorsaam, sal hy so nimmer as te nooit sterf nie.”

52. Die Jode se reaksie was: “Nou weet ons verseker dat jy in die mag van ’n bose gees is. Abraham en die profete het reeds gesterf; nietemin sê jy: ‘As iemand my boodskap gehoorsaam, sal hy so nimmer as te nooit sterf nie.’

53. Jy is tog nie groter as ons vader Abraham wat reeds gesterf het nie? En die profete is ook reeds dood. As wie bied jy jouself aan?”

54. Jesus het geantwoord: “As Ek Myself verheerlik, is my heerlikheid niks werd nie. Dit is my Vader wat My verheerlik, oor Wie julle sê: ‘Hy is ons God,’

55. maar julle ken Hom nie. Ek ken Hom. As Ek sê: ‘Ek ken Hom nie,’ sal Ek net soos julle ’n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom en Ek gehoorsaam sy woorde.

56. Abraham, julle voorvader, het met uitbundige blydskap uitgesien na my dag; en hy het dit gesien en was verheug.”

57. Die Jode het toe reageer: “Jy is nog nie eers 50 jaar oud nie en jy het Abraham gesien?”

Lees volledige hoofstuk Johannes 8