Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 5:16-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

16. Daarom het die Jode Jesus probeer vervolg, net omdat Hy dit op ’n Sabbat gedoen het.

17. Maar Jesus het teenoor hulle reageer: “My Vader werk tot nou toe, en ook Ek is aan die werk.”

18. Daarom het die Jode hulle nog meer beywer om Hom dood te maak, want Hy het nie net die Sabbat ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem, en Homself só aan God gelykgestel.

19. Jesus het daarop reageer: “Ek verseker julle, die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen. Wat die Vader ook al doen, dit doen die Seun net so.

20. Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen; en Hy sal Hom nog groter dinge wys as hierdie sodat julle verstom sal staan.

21. Soos die Vader die dooies opwek en weer lewend maak, só maak die Seun ook lewend wie Hy wil.

22. Die Vader veroordeel niemand self nie; Hy het die volle oordeel aan die Seun oorgelaat.

23. Daarom moet almal die Seun eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer ook nie die Vader wat Hom gestuur het nie.

24. “Dit verseker Ek julle, wie my woorde hoor en wie vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe.

25. Ek verseker julle, daar breek ’n uur aan, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor en dié wat dit gehoorsaam, sal lewe.

26. Soos die Vader lewe in Homself het, só het Hy dit ook aan die Seun gegee om lewe in Homself te hê.

Lees volledige hoofstuk Johannes 5