Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 19:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

1. Toe het Pilatus Jesus geneem en Hom laat gésel.

2. En die soldate het ’n kroon van dorings gevleg en dit op Jesus se kop gesit. Hulle het ook vir Hom ’n pers kleed aangetrek,

3. op Hom afgestorm en gesê: “Gegroet, Koning van die Jode!” Hulle het Hom aanhoudend met die vuis geslaan.

4. Pilatus het weer ’n keer buitentoe gegaan en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe sodat julle kan besef dat ek hom onskuldig bevind.”

5. Daarop het Jesus buitentoe gekom, met die kroon van dorings op sy kop en die pers mantel aan. Pilatus sê vir hulle: “Dáár is die mens!”

6. Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, het hulle nog harder geskree: “Kruisig hom! Kruisig hom!”“Neem júlle hom en kruisig hom, want ek vind geen skuld in hom nie,” sê Pilatus daarop aan hulle.

7. Die Jode het hom geantwoord: “Ons beskik oor ’n wet en daarvolgens moet hy sterf omdat hy homself as die Seun van God voorgehou het.”

8. Toe Pilatus hierdie opmerking hoor, het hy nog banger geword,

9. sy hoofkwartier binnegestap en weer vir Jesus gesê: “Waarvandaan kom jy?” Maar Jesus het hom nie geantwoord nie.

10. Daarop reageer Pilatus toe: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die bevoegdheid het om jou vry te laat, en ook die bevoegdheid om jou te laat kruisig nie?”

11. Jesus het hom geantwoord: “U sou geen bevoegdheid oor My hê as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, nog groter skuld.”

12. Na aanleiding hiervan het Pilatus Jesus probeer vrylaat, maar die Jode het dit uitgeskreeu: “As u hom bevry, is u nie ’n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as ’n koning voorhou, is in konflik met die keiser!”

13. Toe Pilatus hierdie woorde hoor, het hy Jesus buitentoe gebring en self op die regterstoel gaan sit by ’n plek wat Klipterras genoem word, in Aramees ‘Gabbata’.

Lees volledige hoofstuk Johannes 19